Mariette Snyman

View Original

Dr. Wilmien Human oor ja (of nee) en ma-wees tydens die Covid-19 pandemie

See this content in the original post

Dr. Wilmien Human, kliniese sielkundige en dosent, praat oor hoe sy ‘n voltydse werklading met gesinsaktiwiteite versoen, oor praktykfiksheid, goed genoeg wees en lekker lag.

1. Wat het jou laat besluit om ’n sielkundige te word?

Ek dink dit het te doen met die feit dat ek mens-georiënteerd is. Van jongs af was ek dikwels die vertroueling na wie mense uitreik. Daarby het ek ’n belangstelling in menslike gedrag en gevoelens, sowel as ’n empatiese en analiserende geaardheid. Dalk het die sielkunde mý gekies?


2. Jy is ook in die akademie. Vertel meer van jou werk.

Ja, ek het die uitdagende paadjie gekies om die akademie met die praktyk te kombineer, met die doel om op die voorfront te bly van die nuutste navorsing sodat ek werklik ’n scientific practitioner kan wees. Die professionele opleiding van kliniese en voorligtingsielkundiges is vir my ’n passie. Tot einde 2019 was ek die koördineerder van die Kliniese Sielkunde Meesters Professionele Opleidingsprogram by die Universiteit van Johannesburg (UJ). Dit behels die opstel en koördinering van die professionele program volgens die HPCSA en Universiteitsregulasies. Ek het ook die verantwoordelikheid gehad om die kliniese personeelspan te lei wat meestersgraad-studente oplei. Dis was ’n voorreg en ’n groot verantwoordelikheid, maar ook ’n manier om terug te gee aan die professie, en dit gee my insae in die nuwe generasie sielkundiges.
Ná ses en ’n halwe jaar in die UJ Sielkundedepartement het ek van begin 2020 na ’n senior dosentpos by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geskuif, waar my rol ook grotendeels in die professionele opleiding van sielkundiges is. Ek kombineer die akademie weer met praktykwerk.
Dis was ’n groot skuif vir ons gesin, min wetend ons trek in wat sou uitdraai om die Covid-19 pandemiejaar te wees. Die jaar 2020 was ’n uitdagende jaar vir die wêreld en ’n vreemde jaar om by ’n nuwe instansie te begin werk waar alles aanlyn geskuif het. Die akademie het sy eie uitdagings gehad te midde van die grendeltye en aanlynomgewing. UWK het ’n #nostudentwillbeleftbehind beweging begin en baie ekstra werk is ingesit om te verseker dat studente hul 2020 jaar kon voltooi.

Wilmien verduidelik wat depressie behels, hoe om dit te herken en hoe dit hanteer kan word.


3. Waarop het jou doktorale studie gefokus?

My fokus was op aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteitsindroom, beter bekend as ADHD, in volwassenes – onder meer op hoe die psigodiagnostiese profiel in volwassenes manifesteer, hoe om dit klinies te assesseer, wat die neurokognitiewe prosessering is en hoe die manifesterende gedrag lyk.

Hoe kan jy die ideaal om ‘n supervrou te wees aanpas sodat jy nie uitbrand nie? Luister hier na Wilmien.


4. Jy het ook ’n privaatpraktyk. Is dit nie dreinerend om daglank op mense se emosies en probleme te fokus nie?

Inteendeel - dit gee my lewe! Dit verryk ook my opleiding met studente omdat ek uit ’n praktiese ervaringsraamwerk kan praat. Deur die jare word ’n mens praktykfiks. Gesonde grense en om in die praktyk uit ’n sekere raamwerk te funksioneer dra by tot gesonde energieregulering sodat ’n mens nie gedreineer word nie. Dis vir my ’n voorreg, en ek het baie respek vir die terapeutiese spasie en mense se probleme en emosies.

My hart gaan uit na alle mense wat op verskillende maniere deur hierdie pandemie geraak word. Ek het egter hoop en die mens is aanpasbaar.


Hoe kan die positiewe sielkunde jou lewenskwaliteit verhoog? Hier is Wilmien se raad.

5. Jou man, Werner, is ook ’n kliniese sielkundige. Hoe het julle ontmoet, en wat doen hy?

Ek het destyds Johannesburg toe gekom om my kliniese hospitaal-internskapjaar by Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal te voltooi. Werner was daar met sy kliniese gemeenskapsdiens jaar besig. Ons het mekaar ontmoet terwyl almal tussen saalrondtes saam koffie drink, en menige gesprek gehad oor die lewe, ons professie en die beste intervensies vir ons pasiënte. Ons het sedertdien in verskeie kontekste saamgewerk en kon die professionele grens nog altyd goed handhaaf.
Ons is vanjaar twaalf jaar getroud. Hy is my pasmaat, die mens wat my die beste ken en verstaan. Werner het ’n amazing teenwoordigheid, en is ook baie pret! Ek is elke dag dankbaar vir sy menswees en pa-wees vir ons twee kosbare dogtertjies. Hy werk sedert November 2019 in privaat praktyk in die Paarl met ’n wye verskeidenheid pasiënte.


6. Vertel ons van julle twee dogtertjies.

Jy moet liewer nie ’n mamma vra om oor haar kinders te begin praat nie! Lilly is agt en gaan in 2021 na Graad 3 en Olivia is ses en begin met Graad 1.

Ons is baie gefokus op gesinsaktiwiteite. Ek moet ook ons ondersteuningsnetwerke krediet gee - ons ouers, hulle ooms en tannies, en ons vriendekring. It really takes a village. Ons is geseënd. Ons familie is in Johannesburg en 2020 was ’n vreemde jaar om aan te pas in ’n nuwe gemeenskap met lang tye wat ons familie ook nie kon kom kuier nie. Die Paarl gemeenskap is egter lieflik en selfs te midde van ’n wêreldwye pandemie kon ons mense leer ken en die dogtertjies het wonderbaarlik aangepas by hul nuwe skool te midde van ’n baie ontwrigte skooljaar.



7. Wat is vir jou die grootste uitdagings van ma-wees?

In die sielkunde is daar ’n teoris, Winnicott, wat van die good enough mothering-konsep praat. Soms sê ek vir myself ek is ’n good enough mamma, al was dit ’n rowwe dag of het alles nie volgens plan verloop nie. Die jaar 2020 het dit nog meer vir my geleer toe alles in ’n oogwink verander met tuisonderrig wat vereis word terwyl ek voltyds aanlyn van die huis af moes werk. Vir my bly dit ’n uitdaging om voltyds werk met die grootmaak van ons dogtertjies te balanseer. Ek moes leer om my tyd goed te bestuur, die kwantiteit versus kwaliteit tydkonsep uit te leef, asook intensioneel loopbaankeuses te maak wat ’n mate van flexibility bied om teenwoordig te kan wees by die dogtertjies.
Ek is baie intensioneel met waarvoor ek ja of nee sê. Ek moes al byvoorbeeld vir aanloklike werksgeleenthede nee sê omdat dit tyd van my kinders sou wegneem. Dit bly ’n uitdaging om al die werkprioriteite en -verantwoordelikhede met ma-wees te balanseer.


8. En die grootste lekkertes?

Daar is so baie! Die onvoorwaardelike liefde, drukkies, sêgoed. Ek het soveel waardering vir hoe hul temperamente verskil en hoe hul elkeen hul ontwikkelingsfase en menswees uitleef. Ma-wees is sekerlik een van die grootste geskenke wat ek nog ontvang het en alhoewel dit soms oorweldigend kan raak, bly ek altyd bewus van die voorreg en lekkertes daarvan. Ons probeer intensioneel met elkeen se behoeftes omgaan. Werner is ’n baie betrokke pa en ons twee is ’n heerlike span wat lekker saam met die dogtertjies kan lag en speel.


9. Wat is jou wens vir jou kinders?

Dat hulle altyd sal weet daar is ’n hele community van hul ouers, familie en vriende wat vir hulle cheer. Omdat hulle soms al gesels oor met wie hulle eendag gaan trou, hoop ek hulle vind eendag ’n man soos hul pa ;-)

10. As jy terugkyk op jou lewe, vir watter gawes of gebeure is jy die dankbaarste?

  • Ek dink vir die gawes van geduld, om teenwoordig te kan wees, en om in moelike omstandighede toleransie en perspektief te kan hê. Dankbaar vir ’n werk en gesondheid te midde van die Covid-19 pandemie.

  • Ek is dankbaar vir baie gebeure wat my gevorm het tot wie en wat ek vandag is.

  • Ek is baie dankbaar vir my gesin van oorsprong en my grootwordjare en avonture, al was daar ook soms traumatiese en uitdagende tye. My ma is ’n juweel en een van my beste vriendinne. Ek en my pa deel ’n groot liefde vir musiek en klavier. En my boet is een van my hartsmense en bederf my en die dogtertjies altyd. Behalwe vir al die bederf is hy ook my hair stylist.

  • My troudag en die geboorte van ons dogtertjies was hoogtepunte.

  • Ek het kosbare skoonfamilie wat van niks issues maak nie - ek is altyd dankbaar dat ek ’n familie ryker geraak het. My skoonma is ’n vriendin en my skoonsusters is soos sussies, en ons het heerlike familiekuiers.

  • En dan is daar my kosbare hartsvriendinne en ons vriendekringe wat ons verryk. As ek oor my lewe reflekteer, is ek so dankbaar vir wat hulle tot my lewe toevoeg.

  • Ek het ook waardering vir kollegas wat ’n mens uitdaag om te groei en wat die werksreis kan deel. Die lewe is ’n geskenk en ek probeer alles wat gebeur, die lekker én uitdagende dinge, in perspektief te sien.  Dit, saam met my geloof en hartsmense, help my om grounded te bly.

     

    Kontakdetail:

    Dr. Wilmien Human, kliniese sielkundige met ‘n privaatpraktyk in Paarl en senior dosent aan die Universiteit van die Wes-Kaap: wilmienvs@gmail.com

Hierdie artikel het oorspronklik op www.rooirose.co.za verskyn.

Foto’s: Pexels, foto van ballonne: Unsplash

Foto’s van die Humans: verskaf