Egskeiding: vars oplossings vir die betaling van onderhoud en ouersamewerking 

Hoewel versuim om onderhoud te betaal ‘n kriminele oortreding is, ontvang talle primêre versorgers nie die onderhoud wat hulle of hul kinders toekom nie. ‘n Nuwe inisiatief verhoed dat onderhoudwanbetalers voortgaan om krediet te ontvang terwyl hulle onderhoud verskuldig is – en ‘n nuwe toep, die Co-Parent App, help geskeide ouers om misverstande en konflik te beperk. Hierdie artikel het in die Februarie 2023-uitgawe van rooi rose verskyn.

Anneke en Laurie Greyvenstein

Gesprekke oor egskeidingsonderhoud kom koud en berekend voor. Onderhoud is immers ‘n regsterm. Wanneer ons egter besef onderhoud sorg dat ‘n baba melk het om te drink, ‘n kleuter met ‘n vol magie gaan slaap of ‘n kind skoolklere en skryfbehoeftes het, verander die prentjie. Talle primêre versorgers - nie noodwendig ma’s nie - moet toekyk hoe hul kinders skade ly omdat die onderhoudbetaler versuim om by te dra. Ontvangers van huweliksmaatonderhoud is dikwels in dieselfde posisie.

In ons samelewing word 67% van alle kinders groot sonder beide biologiese ouers in die huis; in Suid-Afrika raak dit sowat 13 miljoen kinders. In ‘n groot persentasie van die gevalle waar onderhoud deur die hof toegestaan is, word dit eenvoudig nie betaal nie, en wanbetaling kan jare lank duur.

“Ons howe het nie die kapasiteit om hierdie probleem op te los nie,” sê Laurie Greyvenstein van Kaapstad, voorsitter van die National Accreditation Board for Family Mediators en uitvoerende direkteur van die Social Justice Network. “Na raming sal dit huidiglik 153 jaar neem om die bestaande aansoeke rakende kinder- en huweliksmaatonderhoud te hanteer.

an-empty-wallet-creates-problems-for-families

“Versuim om onderhoud te betaal is ‘n kriminele oortreding. Sedert 2015 maak plaaslike wetgewing daarvoor voorsiening dat wanbetaling op die skuldiges se kredietprofiele reflekteer, maar dit het nog nooit gebeur nie. Wanbetalers se kredietwaardigheid het onaangeraak gebly en hulle is nie op die swartlys geplaas nie.”

‘n Visie word verwesenlik - ná 16 jaar

Laurie en sy vrou, Anneke, is albei geakkrediteerde gesinsmediators wat ook mediators oplei. Hulle kon dié situasie nie net gelate aanvaar nie. Sestien jaar lank het hulle onverpoosd en op eie koste die regering, kredietverskaffers en ander rolspelers genader om te probeer bewerkstellig dat onderhoudskuld op wanbetalers se kredietprofiele wys. Uiteindelik het hulle daarin geslaag. Mense wat onderhoud verskuldig is se kredietwaardigheid kan nou die eerste keer daardeur geraak word en hulle kan op die swartlys beland.

Laurie en Anneke se hoofdoel is egter nie om mense te “straf” nie, maar om gesonde gesinne te help bou. Hul nuwe platform, Social Justice Maintenance Services, staan die betalers én ontvangers van onderhoud by. Boonop het hulle ‘n bekostigbare medeouerskap toep ontwikkel: die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Dit maak kommunikasie en geskiloplossing tussen geskeide ouers makliker (raadpleeg die kassie oor die Co-Parent App onderaan die artikel.)

 

Laurie explains how divorce mediation works and why it’s faster, cheaper and more flexible than going to court.

Hoe het Laurie en Anneke by die onderhoudkwessie betrokke geraak?

“Meer as 40 jaar se ervaring van geskiloplossing, waarvan 35 jaar toegespits was op onderhoudsake, het my pynlik bewus gemaak van die regstelsel se onvermoë om onderhoudverpligting te verseker,” sê Laurie.

judges-hammer-to-symbolise-divorce-court-proceedings

“Suid-Afrika het 350 landdrosdistrikte en meer as 31 000 toegestaande egskeidings en 200 000 nuwe onderhoudaansoeke elke jaar. Met die bestaande hofstruktuur, die hoë sakelading en prosedures ingevolge die Onderhoudswet is die toestroming van sake oorweldigend. Hofgebruikers kan onderhewig wees aan 'n wagtydperk van twee tot vier jaar voor ‘n oplossing verkry word. Sommige hofgebruikers gaan tot 32 keer hof toe sonder dat enige vordering gemaak word.

“Ons grootste hekwagters vir ouers is die regsbedryf, die departement van justisie en die kredietbedryf. Regspraktisyns en mediators kan die proses stroomlyn, maar dit gebeur nie noodwendig nie. Dis ironies: hoe doeltreffender 'n regspraktisyn of bemiddelaar is, hoe minder geld verdien hulle. Hoe langer hulle die saak aan die gang kan hou, hoe hoër is die fooi – nié in die beste belang van die gesinne wat ons veronderstel is om te help nie! 

“Ek en Anneke het in 2006 begin werk om positiewe verandering te bewerkstellig. In 2015 het ons die onderhoudswetgewing verander gekry. Die nasionale kredietregulasies is verander om onderhoud in te sluit. Met ander woorde, agterstallige onderhoud moes voortaan op wanbetalers se kredietprofiele reflekteer en hulle kon op die swartlys verskyn.”  

“Dié wetgewing is nooit toegepas nie,” sê Anneke, voorsitter van die Social Justice Stigting. “Suid Afrika het tans 44 kredietburo’s wat by die Nasionale Kredietreguleerder geregisteer is. Ses is vol buro’s wat inligting in terme van die Nasionale Kredietwet versamel. Kredietverskaffers moet die kredietburo’s se inligting nagaan om seker te maak die verbruiker se gedrag en besteebare inkomste is in lyn met die krediet waarvoor aansoek gedoen word.”

Samewerking met Consumer Profile Buro

laptop-with-data-related-to-divorce-stats

 

“Die situasie is kompleks,” verduidelik Marina Short, hoofuitvoerende beampte van Consumer Profile Buro, een van die ses vol kredietburo’s. “Een van kredietgewers se grootste probleme is dat hulle nie al die data beskikbaar het om ingeligte besluite rakende kredietaansoeke te kan neem nie.”

Omdat kinders en hul welstand haar na aan die hart lê, het Marina ingestem om die databasis van die onderhoudskuld wat deur Anneke en die Social Justice-span bymekaargestel gaan word, in te neem en aan kredietgewers beskikbaar te stel. Sodoende kan onderhoudskuld in ag geneem word wanneer kredietwaardigheid bepaal word.  

“Vir ons was dit ‘n oorwinning,” sê Anneke. “In die toekoms sal kredietverskaffers soos banke die onderhoud as voorkeureis bo enige ander skuld moet erken. Hulle moet nou van maandelikse én agterstallige onderhoud kennis neem voor krediet toegestaan word. Gebeur dit nie, kan hulle van roekelose kredietverlening aangekla word. Om die instansie te straf, kan die lening afgeskryf, boetes opgelê of die registrasie van die kredietverskaffer opgeskort word. 

“Nog ‘n positiewe ontwikkeling is die beslissing van die Hoogste Appèlhof in 2020. Dit het behels dat onderhoudsbevele eers na 30 jaar sal voorskryf of “verval”, pleks van na drie jaar. Dit beteken agterstallige onderhoud kan tot en met ‘n periode van 30 jaar met rente herwin word.”

clock-to-show-social-justice-foundations-tireless-work

Anneke, wat deur Laurie as die dryfveer agter hierdie hele beweging beskryf word, werk steeds sestien uur per dag saam met hom om die omstandighede van geskeide gesinne in Suid-Afrika te verbeter.  

 Hoe geskeide gesinne se omstandighede kan verbeter

“Ons vertrou die feit dat onderhoudskuld voortaan by die toestaan van krediet  in ag geneem moet word, sal help om die huidige agterstand in die regstelsel te laat afneem, en voogouers en primêre versorgers se ekonomiese en huishoudelike omstandighede verbeter,” verduidelik Anneke. “Ekonomies aktiewe verbruikers sowel as kredietverskaffers sal verplig word om hul verantwoordelikheid teenoor kinders te erken. Ek glo ‘n honger kind se ras en geloofs- of politieke oriëntasie is generies. Ons moet na ons kinders begin omsien: hulle is die volgende geslag.  

“Ons hoop meer mense sal bewus word van die voordele van mediasie of alternatiewe geskiloplossing (alternative dispute resolution). Dis ‘n vinniger, meer aanpasbare en goedkoper oplossing en kan lang uitgerekte hofgedinge en duur regskostes vervang. Ons is opgewonde oor die Coparent App omdat dit ‘n eerste stap is in die rigting van aanlyngeskiloplossing.  

“Dis ons doelstelling om Suid-Afrika se gesins-etos te verander, een gesin op ‘n slag. Ouers moet ‘n gesonde ekosisteem rondom hul kinders bou. Bowenal wil ons gesinne inspireer om ‘n kultuur van seën, a culture of blessing, tot stand te bring.”

Die Co-Parent App vir ouers en mediators

“Onderhoud behels veel meer as ‘n saketransaksie; ouers wat hul kind se belange op die hart dra, moet met mekaar práát,” sê Laurie. “Regsgedinge dryf mense uit mekaar. Ons doelstelling is om geskeide ouers doeltreffend te help kommunikeer. 

“Die Coparenting App stoor ‘n betroubare rekord van kommunikasie tussen die partye. Dis die eerste stap om geskiloplossing in die hande van ouers te plaas. Dit kan onnodige misverstande en konflik verminder en derde party betrokkenheid beperk.  Dis ‘n neutrale platform en kan konflik en misverstande, wat tipies tot gesinsgeweld lei, verminder.” 

Inligting oor die toep:

*Die toep is sover in Engels beskikbaar.

*Ouers laai die egskeidingsbevel op die toep, die Social Justice Stigting verifieer dit en die inligting gaan na die Consumer Profile Buro.

*Die onderhoudsbedrag en betaling of wanbetaling word aangedui.

*Uitgawes word aangedui deur rekeninge of strokies op die toep te laai.

*Die egskeidingsbevel bepaal wat gebeur wanneer noodsaaklike uitgawes soos doktersbesoeke die onderhoudsbedrag oorskry en watter persentasie elke ouer dan moet bydra, byvoorbeeld 80/20 of 50/50. Die toep hou rekord van hierdie uitgawes en werk die betrokke bedrae uit.

*Omdat ouers se instemming rakende bogenoemde ekstra uitgawes op die toep aangeteken word, voorkom dit dat hulle later daaroor stry.

*Skoolkonserte en ander geleenthede kan op die kalender aangedui word; as dit byvoorbeeld wys watter naweek ‘n kind by watter ouer is, kan hulle makliker naweke uitruil.

*Ouers kan “Moments”, spesiale oomblikke met ‘n kind, deur foto’s, video’s en teksboodskappe op die toep deel. Kinders kan ook boodskappe tik.

*Die toep sluit ingeboude woordfilters in wat beskaafde taalgebruik tussen ouers bevorder. Sou kru taal gebruik word, verander die teks van groen na oranje en uiteindelik na rooi.

*Die toep is gekoppel aan ‘n mediasieprogram sodat ouers, indien nodig, maklik by ‘n geakkrediteerde mediator kan uitkom.

*Die toep bevat ‘n hulpbrongids, onder meer waar traumaterapie beskikbaar is.

*Koste: die eerste maand gratis en daarna ‘n eenmalige bydrae van R50 per ouer per jaar aan die Social Justice Stigting.

*Die toep is beskikbaar op Google Play en binnekort op die Hauwei en Apple Playstore.

Inligting en kontakbesonderhede

Social Justice Maintenance Services, ‘n niewinsgewende organisasie, help mense om

*die wette rakende onderhoud te verstaan;

*vir die eerste keer om onderhoud aansoek te doen;

*aansoek te doen om verhoogde onderhoud of die verandering van bestaande bevele;

*agterstallige onderhoud tot en met ‘n periode van 30 jaar met rente te herwin.

 

Social Justice Maintenance Services ondersteun nie net die ontvangers nie maar ook die betalers van onderhoud. In moeilike gevalle medieer hulle tussen betalers en ontvangers.

Kontakbesonderhede:

Whatsapp 072 675 7516

help@socialjustice.org.za

https://maintenanceorders.co.za/

Foto van Laurie en Anneke Greyvenstein: verskaf

Hooffoto: Pexels

Ander foto’s: Unsplash

 

Previous
Previous

Postnatal depression: when to get help

Next
Next

Living a life of reverence