Kobus Burger oor ‘n fees vir die sinne, speletjies en ligter leef

Radioman, joernalis, kreatiwiteitsafrigter, asemhalingsterapeut, kunsresensent, dramaturg … die programbestuurder van RSG dra ‘n hele rits hoede. Hy beantwoord 8 vrae, waarin Cows Grilling Hamburgers onder meer ter sprake kom.

1 Watter besonderse kindertydervaring sal jou altyd bybly?

 My ouma het 'n vriendin gehad - die skrywer Cecily Louw. Sy het dikwels in Lambertsbaai, waar ek grootgeword het, kom kuier. My ouma het my aan haar voorgestel en daar het 'n hegte band ontwikkel, wat later vir my 'n soort mentorskap was. Sy het vir my briewe geskryf en van Barokmusiek vertel en dat dit 'n mens help om dinge te memoriseer. Saam met die briewe het ek navorsing oor die brein en studiegewoontes gekry en sy het sodoende 'n hele nuwe wêreld van potensiaal vir my oopgesluit. Dit herinner my vandag nog aan die noodsaaklikheid van mentorskap of dan om net iewers 'n saadjie in 'n kind of jongmens se lewe te plant.

 

2 Jou eerste pos as joernalis was as kabaretresensent by Beeld en jou betrokkenheid by die kunste loop regdeur jou loopbaan. Kan jy ‘n paar hoogtepunte uitlig?

Daar was talle hoogtepunte! Ek kon die Britse dirigent Benjamin Zander ontmoet tydens sy besoek aan Suid-Afrika en ons het langs mekaar gesit tydens 'n rit in 'n luukse motor vanaf Soweto na Sandton - dit was al tyd wat hy gehad het vir 'n onderhoud. Ons het passievol oor kreatiwiteit gesels en ek onthou hoe ons nie uit die motor kon klim toe ons ons eindbestemming bereik het nie. 

Dan is ek deur die Nederlandse Teaterinstituut na die Nederlandse kunstefees, Oerol, genooi. Dit vind op 'n eiland plaas en die teaterstukke is op die strand, in skure, onder bome, in 'n skip of selfs tydens 'n bruilof uitgevoer. Ek het daar Tsjekof se Drie susters in 'n grasveld sien afspeel. Dit was 'n onvergeetlike fees vir die sinne. 

Ek kon ook onderhoude voer met van die wêreld se bekendste sangers. En my gesprek met Gloria Estefan wou nie einde kry nie. Ons het net dadelik gekliek. Die platemaatskappy was die josie in, want die ander joernaliste het hul beurte afgewag en my tyd met Gloria was lankal verstreke, maar sy het telkens aangedui dat die gesprek moet voortgaan. Dit is iets wat my vandag nog bybly.

 

3 Jy skep met die gesproke en geskrewe woord, die tekenpotlood, verfkwas en op ander maniere. Het jy ‘n gunstelingmedium?

verfkwaste-kobus-burger-kunsresensent

Die joernalistiek het netjies in my skoot geval, want ek voel soms ek is maar 'n man van min woorde. Dus hou ek van skryf en om dinge in enkele woorde oor te dra. Daarom is ek gek oor die poësie en om gedigte te skryf. Destyds, as subredakteur, het ek daarvan gehou om pittige koppe of opskrifte vir berigte of artikels te skryf. Ek dink dis 'n kunsvorm, nes die gedig. En deesdae, met Twitter en ander sosiale media, bly bondigheid steeds iets wat ons almal onder die knie moet kry.

 

Jy kan jou kreatiwiteit deur speelsheid herontdek en lankvergete drome herwin – sonder om oorernstig te raak, verduidelik Kobus hier.

4 Jy is ‘n asemhalingsterapeut. Wat beteken dit en hoe help jy mense?

Die asemhalingsterapie wat ek beoefen, is bewustelike, sikliese asemhaling (conscious connected breathing) en 'n sessie duur sowat twee ure. 'n Mens lê op jou rug en haal bewustelik asem en word deur 'n terapeut begelei. Die asemhaling, suurstof en energie is dan 'n soort detoks wat op alle vlakke inspeel - fisies, emosioneel, spiritueel en intellektueel. Dit is nie joga-asemhaling soos pranayama of 'n mate van asemhalingsbeheer nie. Dit is al beskryf as die royal road to the unconscious en help mense om van talle dinge ontslae te raak. Dit is ook uitstekend vir pynverligting. Dit is egter nie 'n kitsoplossing nie en tussen 5 en 10 sessies word aanbeveel.

Dit het eers in die jare 70 bekend geword, maar al hoe meer "bekendes" ontdek dit nou en daar is al hoe meer boeke en navorsing wat nou verskyn en die waarde van die terapie belig. Jou asemhaling is altyd met jou. So jy kan so maklik jou asemhaling gebruik om ligter of meer energiek te lewe. Jy het geen toerusting of spesiale kleding nodig nie. Jy kan nou iets doen om jou gedagtes, gevoelens of energie te verander: gebruik net jou asemhaling.

 

5 Wat omtrent vriende en vriendskap is vir jou kosbaar?

Inspirasie. My vriende inspireer my en sluit vir my nuwe wêrelde oop. Ek het vriende met wie ek letterlik met 'n notaboek en pen sit sodat ons albei notas kan maak. My vriende vertel vir my stories, stel my aan boeke, flieks, potgooie, webblaaie, interessante restaurante, kosse, wyne of toeristebestemmings bekend. Ek voel altyd verryk as ek saam met 'n vriend of vriendin gekuier het. En dis darem nie altyd ernstig nie. Ek is gek oor kaart- of bordspeletjies en dra altyd een of twee saam as ek by vriende gaan eet. Daar is genotvolle speletjies soos "Cows Grilling Hamburgers" wat glad nie kompeterend is nie, maar 'n mens rol later op die grond van die lag. Dit is tans my gunsteling en my vriende smeek nou al dat ek dit moet inpak as ons kuier.

 

6 Wat maak van ‘n huis ‘n tuiste?

 In my huis is dit boeke en musiek. Ek hou van sagte lig en om die regte luim te skep deur musiek te kies wat my help ontspan terwyl ek 'n goeie boek lees. Tans verslind ek Anne van Green Gables wat in sprankelende Afrikaans deur Jacki Lätti vertaal is.

 

7 Watter plek op aarde praat met jou hart?

 Die weskus en ons familieplaas buite Lambertsbaai, Steenbokfontein. Ek kan glad nie swem nie, maar die see en water klots in my hart en siel. Ek moet eintlik naby water wees. En die geruis van die see kalmeer my. My ma het 'n labirint op ons plaas gebou, so dit is vir my ook 'n hartsplek.

 

8 As programbestuurder by RSG is jy 24 uur per dag, sewe dae per week aan diens. Hoe handhaaf jy ‘n gesonde balans?

 My asemhalingsterapie is my anker - dit laat my ontspan en gee weer energie. Ek het ook 'n oggendroetine van skryf, meditasie en chi kung (qi gong) wat vir my balans gee. As ek my dag reg begin, dan verloop alles gewoonlik klopdisselboom, desondanks die slaggate. Verder sit ek soms my foon eenkant op silent mode en dan beplan ek ook gereelde wegbreke na die berge vir vars lug en rus.


Meer oor Kobus

Kobus Burger van Johannesburg is RSG se programbestuurder en skepper van die bekroonde RSG Kunstefees en later RSG Skatkis. Hy is ‘n internasionaal-gekwalifiseerde kreatiwiteitsafrigter en die aanbieder van kreatiwiteitslypskole, praatjies en The Artist’s Way.

Kobus was voorheen kunsredakteur van Beeld, voorsitter van die Absa KKNK se Kunstekabinet asook die fees se programbestuurder, en deeltydse lektor in joernalistiek aan die Universiteite van Johannesburg en Pretoria.

Sy debuut-drama, Mara wie?, is met ‘n ATKV Mediaveertjie bekroon.

Kobus is ‘n opgeleide asemhalingsterapeut wat individuele sessies aanbied.

Hy het ‘n diploma in kulkuns en sy jongste innovering is “Wild With Words”.

Kontakbesonderhede

E-pos: kburger@afrihost.co.za

Webblaaie:

http://creativitycoaching.blogspot.com

http://breathworksa.blogspot.com/

Facebook: BreathingSA

Foto’s: Unsplash

Foto van Kobus Burger: verskaf

Previous
Previous

Rudi Swanepoel on woundedness and what we yearn for

Next
Next

Tania Steyn on a life that fell apart, the caveman days and what the world needs now