Telepatiese kommunikasie met diere: is dit moontlik?

Sou jy graag wou weet wat jou huisdier dink of wil hê? Jenny Shone, ‘n ervare dieretelepatie-kommunikeerder, verduidelik dis nes ‘n nuwe taal wat jy aanleer. Sy praat oor die drie maniere waarop diere kommunikeer, die opsporing van vermiste diere, en hoe troeteldiere se gedrags- of gesondheidsprobleme gesinskwessies kan weerspieël.

Jenny Shone by Patricia


Stel jou voor jy is diep in gesprek met jou hond. En dit gaan nie oor wie die gat tussen die roosbome gegrawe het nie – die onderwerp is harmonie in die huis. Jou hond wys jou juis op ‘n paar punte rakende jou verhouding met jou wederhelf.

Belaglik? Moenie glo nie. Nie in die wêreld van telepatiese kommunikasie met diere nie. ‘n Ietwat ekstreme voorbeeld, ja, maar heeltemal haalbaar as jy gekonfyt is in die kuns.

Is jy van nature skepties, sal jy dalk moeilik aan dié storie byt. Dis verstaanbaar. Dierekommunikasie keer ‘n string voorveronderstellings op hul kop. Aannames soos die oortuiging dat diere maar “net diere” is, wesens sonder insig en sonder siel, en dat telepatiese kommunikasie pure verbeelding is, strook nie met hierdie verskynsel nie.

“Baie mense is aanvanklik onseker of hierdie soort kommunikasie kan werk,” sê Jenny, ‘n internasionale dieretelepatie-kommunikeerder en medestigter van die Animal Healing Centre naby Walkerville. “Dis dikwels eers wanneer mense raadop is oor ‘n dier wat weggeraak het, siek bly of ‘onmoontlik’ is dat hulle kom raad soek. As hulle die verrassende resultate sien, loop hulle baie keer self een van my kursusse in dieretelepatie.”

Almal het die potensiaal om “per gedagte” met diere te kan kommunikeer; dis ‘n natuurlike proses, beklemtoon Jenny. “Jy ken waarskynlik iemand wat ‘weet’ wat in haar troeteldier se kop aangaan. Dalk is jy self so fyn op jou diere ingestel. Ek was van kleins af in voeling met wat diere wil hê of dink, maar dis eers toe ek ‘n boek van Amelia Kinkade gelees het dat ek dieretelepatie ‘n naam kon gee. Ek het die kursus gaan loop wat sy op The Isle of Man in Brittanje aanbied, en daarna het die vraag na dié soort dienste hier so toegeneem dat dit steeds die meeste van my tyd in beslag neem.”

Diere kommunikeer op drie maniere: deur prentjies (wat jy kan “sien”) gevoelens (wat jy kan voel) en gedagtes (wat jy kan “hoor”). Meer ervare mense kry woordelikse boodskappe.

Jenny en Ballinor

Geloofsoortuigings en kwantumfisika

Baie mense is skrikkerig vir sesde sintuig-kommunikasie, en Jenny verseker hulle dat dit niks met geloofsoortuigings te make het nie. “Dis maar net soos ‘n nuwe taal wat jy aanleer – een wat jy dalk as kind geken en toe ‘vergeet’ het.”

Sesde sintuig-kommunikasie is deesdae ook minder van ‘n raaisel as vroeër. Die kwantumfisika het bewys dat alles in die heelal uit energie bestaan en dat subatomiese deeltjies inligting bevat. Alles en almal is in verbinding met mekaar en inligting word vryeliker uitgeruil as wat vroeër besef is. Die geheim is om bewustelik toegang tot dié inligting te verkry.

“Om bewustelik met diere te kommunikeer, is amper soos om ‘n nommer te skakel,” sê Jenny. “Maar eers moet jy innerlik stil word. Meditasie help jou om hierdie kalmte te bereik.”

Hier is Jenny by Jessica

Die voorwaarde vir hierdie soort kommunikasie

Die groot voorwaarde vir doeltreffende kommunikasie is respek vir die dier met wie jy gaan kommunikeer. “Die doel is nie om ‘n manier te kry om die dier sover te kry om jou opdragte uit te voer nie. Dis om op gelyke voet te kan praat. Voor elke gesprek vra ons eers of die dier lus voel vir gesels, en as die antwoord nee is, probeer ons later weer. Diere verskil nes mense – party is inkenniger as ander.”

In haar kursusse leer Jenny mense eers om oor eenvoudige kwessies te kommunikeer. Wat is die dier se gunstelingkos, lekkerste aktiwiteit of grootste vrees? “Jy moet die dier kan toelaat om sy eie gevoelens te hê. Ek het ons miniatuurperde al gevra wie hul gunstelingmens is, en dis nie ek nie. Dis Thomas wat hulle versorg!”

Jenny discusses her brand-new book, Purr-fect voices, illuminates the finer points of telepathic animal communication and shares some real-life stories.

Do you need to help your pet deal with trauma following a crime incident?

Hoe huisdiere probleme kan “weerspieël”

Sodra jy sulke sakies onder die knie het, kan jy dieper begin delf. Min mense besef diere voel aan wat verhoudingsgewys in gesinne aangaan, selfs al word hulle nie in die huis toegelaat nie.

“Dis verstommend waarmee die diere wat na my gebring word, vorendag kan kom. Hulle sal byvoorbeeld vertel ‘n gesinslid is depressief. Baie diere neem emosionele spanning op hulle en weerspieël die brandende kwessies in die huis. Fisieke toestande by diere kan ook so ‘n spieël wees. Daar is talle gevalle van ‘n dier wat ‘n kwaal opdoen waarmee een van die huismense later presenteer. As ek sê maar ‘n lewerkwaal by ‘n dier raaksien en so gelei word, waarsku ek die huismense om hul oë vir die simptome daarvan oop te hou.”

Jenny met Chloe

Al klink dit dalk vergesog, het sy dit al soveel keer beleef dat dit haar nie meer verras nie, sê Jenny. “Ek aanvaar dat enige dier wat met gesondheids- of sogenaamde gedragsprobleme na my toe kom, dalk gesinskwessies weerspieël. Ek behandel mediese probleme energiegewys, maar ek vra ook die dier na die onderliggende oorsaak uit. Dikwels verbeter die toestand dramaties sodra hulle die saak van hul hart af kan kry.”

So is ‘n Labrador wat ses maande lank aan chroniese diarree gely het, na Jenny gebring. Niks wou daarvoor help nie. “Die hond het my laat verstaan dat sy eienares se man weens uitermatige werkstres ‘n kettingroker geword het. Dit het die man se spysverteringstelsel aangetas. Die hond het dié toestand weerspieël.”

Die eienares het die feite bevestig. Oornag het die hond se diarree opgehou en ‘n jaar later het dit steeds nie weer opgevlam nie. “Die hond moes net die boodskap oordra.”

‘n Dier met wie jy ‘n sterk band het en gemaklik kan kommunikeer, kan jou ook help om belangrike lewensbesluite te neem. “Diere is baie wys. Ek loop soms huisdiere raak wat kontak met hul innerlike wysheid verloor het weens emosionele en fisieke mishandeling. Deur geduldig na hulle te luister, kan jy hulle help om dit te herontdek.”

Jenny en Merri

Here Jenny explains what happens when your pet dies and how to approach euthanasia.

Wanneer diere wegraak

‘n Tegniek wat in die gevorderde werkswinkel aangeleer kan word, is om diere wat vermis geraak het op te spoor. “My kollega, Sandy Carter, lewer ook hierdie diens. Mense e-pos vir ons ‘n foto van die dier en dan gebruik sy die Gestalt-metode om uit te vind of die dier nog leef, beseer is, en rustig of angstig voel. Sy stel ook vas wat hulle kan hoor, ruik, voel en sien.”

Soms kry Sandy op dié manier selfs ‘n straatadres, maar meer dikwels raai sy die eienaar aan om na die dier te gaan soek op ‘n plek waar daar byvoorbeeld lang gras of ‘n verwaarloosde tuinhuisie is. “Eienaars weet gewoonlik in watter omgewing die dier weggeraak het, en dan is dit maar ‘n deur-tot-deursoekery.”

Soms loop diere doelbewus weg, sê Jenny. “Een kliënt se kat het my laat verstaan die emosionele spanning tussen sy eienares en haar man het vir hom te veel geword. Hy het by die bure gaan intrek. Gelukkig kon sy eienares dit aanvaar.”

Wie weet – dalk wys die groeiende belangstelling in die verskillende vorme en gebruike van dieretelepatie dat ons besig is om ‘n “verlore” kernaspek van menswees te herontdek.

Kontakdetail

Jenny Shone is ‘n internasionale dieretelepatie-kommunikeerder, Reiki-meester, spreker, skrywer, opvoeder en stigter van die Animal Healing Centre naby Walkerville. Sy hanteer kommunikasiesessies met kliënte se diere (deur middel van ‘n photograph reading of soms ‘n sessie met die dier in die eienaar se huis), help om vermiste diere op te spoor, en bied werkswinkels in dieretelepatie en -genesing aan. Werkswinkels behels klein groepe (4-6 mense) wat die kursus in een van die betrokkenes se huis bywoon.

Tel. 082 450 1158

E-posadres  jenny@animalhealing.co.za

Webwerf http://www.animalhealing.co.za

Hierdie artikel het oorspronklik in rooi rose verskyn.

Hooffoto: Unsplash.

Foto’s van Jenny Shone: verskaf.

Previous
Previous

Women and sexually transmitted infections: dealing with stigma and shame

Next
Next

Egskeiding: hoe om iemand wat skei te ondersteun