Anys Rossouw: die industrie van hoop

Anys Rossouw.jpg

Opvoedkundige sielkundige Anys Rossouw praat oor die voordele van sielkundige terapie, rugsakreise en praktiese maniere om gelukkig te bly.

1. Anys, baie mense kry sielkundige hulp. Watter voordele hou dit in?

Ek werk in die industrie van hoop.
Sielkundige terapie is ’n belangrike tool in my industrie. Dit bied mense ’n veilige omgewing waar hulle nie geoordeel word nie, maar gehoor en verstaan word om dikwels dinge wat hul geluk en optimum funksionering steel te verander.
Dit gee mense tyd en die ruimte om mindfully te reflekteer, na te dink en meestal verrassend te beleef watter wonderlike moontlikhede en sterktes in hul eie persoonlikheid en situasie is. So oorkom hulle moeilike dinge in hul verlede en hede, en ontwikkel strategieë en hanteringsmeganismes om vir hulle ’n beter toekoms te skep. Vir baie mense is dit ’n uitlaatklep en beteken dit baie om net hul storie met iemand te kan deel en te ervaar ‘ek is nie meer alleen hiermee nie.’
Sielkundige hulp gaan oor baie meer as mense met probleme.

kolskoot-industrie-van-hoop.jpg

Dit help ook mense om doelwitte te stel, en duidelikheid te kry oor wat hulle in hul lewe en verhoudings wil hê.

Dit fokus daarop om emosioneel en in terme van dinge soos kommunikasievaardighede te ontwikkel, wat dit makliker maak om te kan doen en wees soos hulle graag wil. Dit maak nuwe deure oop en laat hulle anders doen en dink as hulle die moeilike dinge in hul lewe konfronteer en ervaar dat daar hoop en planne is.


2. Wat is jou benadering as sielkundige?

Ek werk vanuit ’n positiewe sielkunde en gefokusde oplossingsbenadering sodat kliënte so gou as moontlik kan kom waar hulle graag in hul lewens wil wees.  Ek glo dat mense die potensiaal en innerlike sterkte het om aanpassings te maak, te kan verander, ontwikkel en groei.

Die eerste tree na ’n goeie môre begin dalk klein, maar vandag. Dan is nuwe moontlikhede en ervarings om die draai ...

3. Watter mense is vir jou kosbaar?

na-aan-anys-se-hart.jpg

My man, kinders, skoonkinders en kleinkind is na aan my hart.

En dan ons groter kosbare, getroue ondersteuningstelsel van naby vriende, vriendinne, ander familielede en kollegas. 


Steek kers op by Anys oor hoe om jong kinders besig te hou - gaan slim om met struktuur en spel!

4. Wat het die lewe jou geleer?

  • Dat die lewe tog goed is, al gebeur skrikwekkende dinge soos ons oudste kind se skielike dood vier jaar gelede.

  • Dat mense belangriker as dinge of prestasies is en dat daar mense is wat werklik omgee en daar is vir jou.

  • Dat om te vra waarom en te fokus op wat jy verloor het, geen sin het nie en jou nog die baie wat jy steeds het, kan laat mis of selfs verloor.

  • Dat weerstand teen wat ek nie kan verander nie, my en ander mense se geluk steel.

  • Geluk is nie eendag nie, maar iets wat ek nou en hier elke dag oomblik vir oomblik vir myself en my geliefdes moet skep.

  • Daar is dikwels geleenthede en goedheid waar ek dit nie verwag of op aanspraak kan maak nie.

  • Dat vrede vryheid is om te wees en ander te laat wees.


    Anys gee raad oor hoe om kommunikasie en konflik in ‘n liefdesverhouding ‘n hupstoot te gee.

5. Jy is gek na reis. Wat is dit omtrent reis wat jou trek?

Soveel dinge: Die opwindende beplan en dan ontdek van nuwe plekke, mense, kulture, kosse, smake, reuke, musiek, argitektuur, geskiedenis, kulture ... ander maniere van doen, dink en wees, wat my gees en perspektief verruim. Dit vul my met verwondering en dikwels met dankbaarheid vir wat ek het en beleef.

anys-sien-reis-as-ander-maniere-van-doen-dink-en-wees.jpg

Ek en my man se reise behels dikwels lang afstandstaptogte iewers in ’n ander land of op ’n ander kontinent. Ons stap meestal meer as 100km tot selfs 200km of meer oor ’n tydperk van ’n week tot 10 dae dag vir dag met ons rugsakke.

Ons probeer om elke aand in ’n ander dorpie in ’n gastehuis of pension te slaap. Dis stadige, dieper kyk, dieper ervaar, deelword en inaseming van ’n plek en sy mense met hul gewoontes en kultuur.

6. Hoe hou jy jou gees gesond?

  • Ek omring my met positiewe en liefdevolle mense en probeer moeite maak met die belangrike verhoudinge in my lewe.

  • Ek en my man drink elke aand whiskey en gesels kopstukke.

  • Ek probeer om tevrede-dankbaar te wees vir wat ek het en om klein dingetjies en oomblikke te waardeer en te geniet.

  • Ek vind sin, stimulasie en bevrediging in my werk.

  • Ek probeer balans vind tussen werk en speel deur regtig te beplan en tyd te maak vir tye van rus, vakansie, wegbreek, geniet en kuier saam met ons kinders en vriende.

  • Ek is deel van groepe mense wat my stimuleer en waar ons plesier vind, soos by ons boekklub.

  • Ek lees, skryf, oefen, stap gereeld, werk in die tuin en speel met en geniet my dierbare kleinkind.

    Kontakdetail:

Anys Rossouw is ‘n opvoedkundige sielkundige met ‘n privaatpraktyk in Pretoria: tel. 012 460 7366 of     anys@anys.co.za

Let wel: Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op www.rooirose.co.za

Foto van Anys Rossouw: verskaf

Ander foto’s: Unsplash

Previous
Previous

Dr. Hannetjie van Zyl-Edeling: driedimensionele skilderye en nuuskierigheid