Prof. Elain Vlok oor oor ‘n reuse Harley-Davidson, resepte met stories en die geheim van 'n gelukkige huwelik

‘n Sosiale verantwoordelikheidsfilantroop, spesialis welstandsberader, huweliksbevestiger & motiveringspreker skryf oor omgee wat in aksie verander, musiek maak by familielede se troues, saam droom en wat 'n ou tannie jare gelede gesê het. Inhoud geborg.

1 Jy is 'n gemeenskapsmens in murg en been. Wat motiveer jou?

Ek dink 'n mens se waardes word dikwels reeds in jou kinderjare gevorm. Ek het grootgeword in 'n huis waar my ouers nie net oor omgee gepraat het nie, maar dit prakties uitgeleef het. Wanneer my pa tuisgekom het en vertel het dat iemand swaarkry en daar nood is, het my ma dadelik gesê: “Bring gou 'n doos uit die stoorkamer.” Dan het ons blikkieskos, meel, botter, kaas en melk daarin gepak, en my pa het dit die volgende oggend by die gesin gaan afgee.

Maar my ouers se omgee het veel verder gestrek. Hulle het pannekoeke vir basaars gebak, melkterte gemaak en gehelp waar daar 'n behoefte was. Hulle kon luister, nood raaksien en vinnig 'n plan maak. Dit is waarskynlik waar my eie ingesteldheid begin het.

Later in my lewe het ek dikwels besef dat baie van dit waarmee ek my besig hou, eintlik 'n verlengstuk is van wat ek as kind by my ouers gesien het. Om iets vir ander te doen, het nog altyd vir my natuurlik gekom.

Toe ek Clover Mama Afrika begin het, het ek nooit kon droom hoe groot die projek uiteindelik sou word nie. Ek het eenvoudig geweet dat ek 'n verskil wou maak – nie net vir die maatskappy nie, maar veral vir die vroue wat op die projek staatgemaak het en geglo het dat daar vir hulle 'n beter toekoms moontlik is. Ek kon uiteindelik 60 vroue in die projek aanstel en hulle help bemagtig.

prof-elain-vlok-lifetime-achievement-award

Vir hierdie werk is Elain onder meer met die Woman of Stature Lifetime Achievement Award for Community Service vereer

Om die regte vroue te vind, het tyd en baie persoonlike betrokkenheid geverg. Wanneer ek hoor van twee of drie moontlike kandidate in 'n omgewing, het ek daarheen gery, hulle ontmoet, onderhoude gevoer en na hulle omstandighede gaan kyk. Daarna het ek teruggegaan en 'n plan uitgewerk oor hoe ons die beste 'n verskil in hulle lewens kon maak. Dit was nooit bloot 'n geval van iemand aanstel en aangaan nie. Ek wou weet waar die behoefte lê en hoe ons 'n geleentheid volhoubaar kon maak.

My ore was altyd wawyd oop vir moontlikhede! Ek het selfs by mense wat verhuis het, stilgehou en gevra of daar nie dalk iets was wat hulle vir my projek kon skenk nie. Mettertyd het mense self begin bel en vra of ek met die sogenaamde charity truck kon kom oplaai. Ek het geweet dat 'n ou bad wat iemand uitgehaal het, dalk vir een van my Mama's 'n groot verskil kon maak wanneer sy wasgoed moes was. Dit is hoe 'n mens leer om met ander oë na dinge te kyk: iets wat vir die een nie meer waarde het nie, kan vir iemand anders 'n kosbare hulpmiddel wees.

Ek het ook geleer om te vra. Aanvanklik het ek dikwels fasiliteerders gebruik om opleiding aan te bied, maar later het ek self kook-, bak-, kwilt- en soms mosaïekklasse aangebied. So kon ons koste bespaar en meer Mama's opleidingsgeleenthede bied. Ek het geweet dat donateurs wou sien wat met hulle bydraes gebeur, en daarom het ek moeite gedoen om skriftelike verslae en foto's saam te stel. Die resultate het vir hulleself gepraat; maatskappye het later self geskakel en aangebied om fondse beskikbaar te stel.

Ek het selfs 'n boekie en pen langs my bed gehou, want die wonderlikste idees het soms in die middel van die nag by my opgekom. Dan het ek net 'n paar woorde neergeskryf en die volgende oggend die hele plan uitgewerk. Meer as een funksie het op dié manier ontstaan!

Tydens Covid, toe ons nie meer soos voorheen kon saamwerk nie, het ek resepte op video opgeneem, die bestanddele gekoop en dit saam met 'n geheuestokkie vir die Mama's laat koerier. Hulle moes die geregte voorberei, foto's neem en dit vir my stuur. Só kon ons steeds resepte en artikels ontwikkel, maar, nog belangriker, kon die vroue voortgaan om kos te maak en koeke te bak vir onder meer begrafnisse en verjaarsdae. Ons het probeer verseker dat hulle vaardighede en inkomste nie eenvoudig tot stilstand kom nie.

Hoewel ek ná my bedanking 'n nuwe lewensfase betree het, het my omgee-hart nie saam met my afgetree nie. Mense nader my steeds om sosiale werk in gemeenskappe te doen, en ek help waar ek kan om donasies, borgskappe en nuwe geleenthede vir vroue te bekom.

Ek glo nie 'n mens kan jou hart eenvoudig afskakel wanneer jy nood raaksien nie. Ek luister na daardie innerlike stemmetjie en probeer dadelik 'n plan maak. Ek wil nie net simpatie hê met mense se omstandighede nie; ek wil help om dit te verander. Die wete dat jy iemand se lewe 'n bietjie makliker gemaak het, 'n nuwe moontlikheid geskep het of iemand weer hoop gegee het, bly vir my ongelooflik kosbaar.

Dit is wat my motiveer: omgee wat in aksie verander, mense wat weer in hulleself begin glo, en die wete dat elkeen van ons iets kan doen om iemand anders se wêreld beter te maak.

2 Jy is deesdae ook 'n huweliksbevestiger. Verrig jy ander funksies wat hiermee verband hou, en wat dring jou om dit te doen?

Ek het ontdek dat hierdie nuwe roeping baie meer behels as net die bevestiging van huwelike. Ek kan ook huwelikshernuwings en geloofsgerigte seremonies vir belangrike lewensgebeure behartig, asook begrafnis- en afskeidsdienste en seëninge vir babas. Ek wil graag daar wees vir mense tydens die groot én moeilike oomblikke in hulle lewens.

Ek het begin lees oor wat hierdie werk behels en hoe ek dit verantwoordelik kan aanpak. Hoe meer ek gelees het, hoe sterker het die besef geword: Maar dit is wat ek wil doen! Ek dink die jare se werk met mense, my ervaring met berading, my geloof en my behoefte om ander by te staan, het my eintlik al lank hiervoor voorberei.

Ek is nie skaam om oor my geloof te praat nie. My geloof is deel van wie ek is, en ek glo dat 'n mens deur jou optrede, woorde en voorbeeld iets van daardie geloof aan ander kan oordra. Daar is mense wat nie meer aan 'n kerk verbonde is nie, maar steeds 'n betekenisvolle, mooi en waardige seremonie vir 'n troue of afskeid verlang. Ek wil graag vir hulle ook 'n ruimte skep waar hulle geliefde lewensoomblikke met respek, warmte en betekenis kan vier.

Ek berei tans voor vir die vereiste eksamen sodat ek, wanneer ek aan al die vereistes voldoen, nie net die seremoniegedeelte kan behartig nie, maar ook die wetlike deel van huweliksbevestiging soos deur Binnelandse Sake vereis word.

Ek is van nature 'n gelukkige mens en geniet dit om iets vir ander te doen. Hierdie nuwe werk gee my die geleentheid om mense op 'n baie persoonlike vlak te ontmoet, na hulle stories te luister en hulle in belangrike oomblikke by te staan.

Ek het eenvoudig geweet ek moet hierdie pad stap. Net soos my werk met Clover Mama Afrika oor baie jare my passie was, voel hierdie nuwe roeping vir my soos 'n natuurlike voortsetting daarvan. Ek is opgewonde oor die moontlikhede en glo dat ek steeds 'n betekenisvolle verskil kan maak.

As ek deur hierdie werk iemand kan bemoedig, hoop kan gee of selfs iemand nader aan Hom kan bring, sal dit vir my 'n besonderse geskenk wees.

elain-op-wandelpad-langs-die-see

3 Ná dekades in Johannesburg is jy nou in Mosselbaai. Hoe vind jy jou nuwe omgewing?

Ek geniet Mosselbaai ongelooflik baie! Ek woon sowat 400 meter van die see af en het al geleer dat jy hier soms al vier seisoene op een dag kan beleef. Ek geniet die son, die ligte reën en die vars seelug. My daaglikse stap is vir my 'n groot plesier, en ek probeer elke dag meer as 10 000 treë inkry.

Ons woon op 'n plek wat mense graag die hemel op aarde noem. Daar is nie heinings oral om jou nie, en die natuur is deel van jou alledaagse lewe. Bokkies, skilpaaie, tarentale, fisante en 'n groot verskeidenheid voëls kom verby. Soms is daar ook 'n slang wat jou daaraan herinner dat jy nie alleen hier woon nie! Dit is 'n wonderlike voorreg om so naby aan die natuur te leef.

Een van die grootste aanpassings was die donker wintersaande. Ons het nie elektriese straatligte nie, en wanneer dit donker word, is dit werklik donker. In die winter kan dit reeds teen 18:00 donker wees en eers omstreeks 08:00 die volgende oggend weer lig word. Aanvanklik was dit 'n aanpassing, maar nou waardeer ek die rustigheid en die sterrehemel des te meer.

Die ander groot verandering is dat ek my tyd baie meer volgens my eie ritme kan inrig. Ek beplan my afsprake en besoeke so dat ek ook tyd kan maak vir die dinge wat my gelukkig maak. As ek byvoorbeeld iemand besoek of 'n beradingsessie behartig, probeer ek soms daarna 'n draai op die wandelpad maak. Hoekom nie die beste van albei wêrelde geniet nie?

Ná soveel jare in 'n besige werksomgewing is dit heerlik om steeds produktief en betrokke te wees, maar terselfdertyd meer ruimte vir jouself te hê. Ek kan my werk voortsit, mense help en steeds die natuur en my omgewing geniet.

Mosselbaai het my 'n nuwe waardering vir die klein dinge gegee: die son wat deurbreek ná reën, 'n wandeling langs die see en die voorreg om my dag met meer vryheid te beplan. Ek voel baie bevoorreg om hier te kan woon.

4 Verhoudings lê hoog in jou waardestelsel. Wat reken jy is die geheim van 'n gelukkige huwelik?

Ek glo dat 'n gelukkige huwelik nie vanself gebeur nie. Twee mense moet doelbewus kies om tyd vir mekaar te maak, mekaar se geselskap op te soek en saam aan hulle verhouding te bou.

Dit hoef nie altyd groot romantiese gebare of duur wegbreke te wees nie. Soms lê die grootste vreugde in die eenvoudigste dinge: saam kos maak, skottelgoed was of net aan die einde van die dag sit en gesels oor wat gebeur het. Die belangrikste is dat julle mekaar se teenwoordigheid geniet en nie so besig raak met alles rondom julle dat julle mekaar verloor nie.

Ek glo ook dat 'n mens jou tyd met sosiale funksies en ander verpligtinge goed moet balanseer. Jou maat moet weet dat hy of sy steeds 'n prioriteit in jou lewe is. Deel belangstellings, ondersteun mekaar se drome en wees bereid om soms iets te doen bloot omdat dit vir jou lewensmaat belangrik is.

Een van die belangrikste lesse wat ek oor die jare geleer het, is dat 'n mens soms jou trots moet sluk en eenvoudig moet sê: “Ek is jammer.” Dit verg volwassenheid om verantwoordelikheid vir jou eie optrede te aanvaar en jouself eerlik in jou maat se skoene te plaas. Die begrip menswaardig behartig, wat ek by wyle prof. Snyman geleer het, het my altyd bygebly. Ek glo dit is ook 'n belangrike beginsel in 'n huwelik: behandel mekaar met waardigheid, selfs wanneer julle verskil.

Kommunikasie is die hartklop van 'n verhouding. Praat openlik oor jou gevoelens, vrese, uitdagings en verwagtinge. Moenie aanvaar dat jou maat vanself sal weet wat jy dink of voel nie. Vertroue groei wanneer twee mense eerlik met mekaar kan wees en veilig genoeg voel om ook hulle kwesbare kant te wys.

En kies jou gevegte! Ek hou baie van die uitdrukking: “Hou by die bal en moenie die man aanvat nie.” Bespreek die probleem sonder om die persoon se karakter aan te val. Elke huwelik het verskille en konflik; die geheim lê dikwels nie daarin om dit te vermy nie, maar in hoe julle dit hanteer. Moenie omdraai en wegloop wanneer dinge ongemaklik raak nie. Luister na mekaar, gee mekaar kans om klaar te praat en werk saam totdat albei voel dat hulle gehoor word.

Ek onthou 'n ou tannie wat jare gelede, toe ek as spreker by 'n VLU-tee opgetree het, vir my gesê het: “'n Getroude paartjie moet nooit kwaad gaan slaap nie.” Toe voeg sy met 'n vonkel in die oog by: “En moenie in 'n ander bed as jou man gaan slaap nie, want daar is altyd 'n ander vrou wat by hom in die bed wil klim!”

Ek het al dikwels aan haar woorde gedink. Hoewel elke paartjie hulle eie manier moet vind om konflik te hanteer, is daar baie wysheid in die gedagte dat 'n mens nie onnodig afstand tussen julle moet laat groei nie. Soms kan 'n saak nie binne een aand opgelos word nie, maar julle kan steeds besluit om mekaar nie met vyandigheid te behandel nie en die gesprek met liefde voort te sit.

'n Gelukkige huwelik beteken ook dat julle saam bly droom. Bespreek julle planne, bemoedig mekaar, ondersteun mekaar se aspirasies en gee positiewe terugvoer. Waardering hoef nie vir spesiale geleenthede gebêre te word nie. Sê dankie, gee 'n kompliment, wys belangstelling en wees emosioneel beskikbaar.

En dan is daar vergifnis, geduld en die aanvaarding dat niemand perfek is nie. Moenie toelaat dat klein irritasies, onrealistiese verwagtinge en onbelangrike verskille die mooi in julle verhouding vernietig nie. Omarm mekaar se menslikheid en onthou waarom julle in die eerste plek vir mekaar gekies het.

My raad? Maak tyd vir mekaar, bly nuuskierig oor mekaar se wêreld en trotseer die storms saam. 'n Huwelik is nie twee perfekte mense wat nooit verskil nie; dit is twee mense wat telkens weer kies om saam vorentoe te beweeg.

5 Ek het 'n voeltjie hoor fluit dat jy, by al jou ander belangstellings en talente, ook sing. Vertel meer!

Musiek en sang is eintlik deel van my grootwordjare. Ek kom uit 'n gesin waar musiek 'n belangrike plek ingeneem het, en ons het byvoorbeeld as gesin musiek gemaak by familielede se troues. Elkeen kon meer as een musiekinstrument bespeel, so daar was altyd musiek en vrolikheid.

My pa het Nico Carstens geken en my destyds na hom geneem sodat hy my op sy kenmerkende manier een van ons gewilde liedjies kon leer speel. Dit was altyd 'n gunsteling wanneer ons by geleenthede opgetree het.

My jonger suster was waarskynlik die eintlike sangeres in die familie. Sy het selfs sang in die buiteland studeer en 'n CD opgeneem, maar is ongelukkig oorlede kort voordat die CD bemark sou word. Haar liefde vir musiek bly vir my 'n kosbare herinnering.

Ek het self nog altyd daarvan gedroom om op 'n verhoog te staan en voor 'n groot gehoor te sing. In my geestesoog kon ek dit altyd so duidelik sien! Wie weet, dalk gebeur dit nog eendag. Vir nou is ek heel tevrede om in 'n kerkkoor te sing of my hart uit te sing wanneer daar 'n geleentheid is.

Ek hou ook daarvan om my eie rympies te maak. Soms kom daar sommer 'n paar woorde by my op en voor ek my kom kry, het dit 'n wysie of 'n liedjie geword. Ek dink musiek is een van daardie wonderlike maniere waarop 'n mens vreugde, herinneringe en gevoelens kan deel sonder dat jy altyd baie woorde nodig het.

En as daar iewers musiek speel, is die kans goed dat my voete begin saam beweeg!

6 Jy is werklik bedrywig. Hoe herlaai jy jou batterye?

Ek het 'n reuse Harley-Davidson CVO met drie wiele, en ek love dit om daarmee in die son te ry! Ek het al heelwat van die wêreld gesien, maar ek het ontdek dat jy op 'n motorfiets die wêreld op 'n ander manier beleef as vanuit 'n motor. Jy sien meer, ruik meer, voel die verandering in die lug en ervaar die omgewing baie intenser. Ek probeer getrou by die spoedgrens hou, maar op 'n pragtige dag, met die son wat skyn en 'n wonderlike pad voor jou, is daar min dinge wat daarmee vergelyk.

Terwyl ek nog voltyds gewerk het, het ek feitlik nooit verlof geneem nie. Ek wou beskikbaar wees wanneer een van my Mama's 'n probleem gehad het. Hulle het geweet hulle kan op my staatmaak, en dit was vir my belangrik. Vandag, in hierdie nuwe lewensfase, gun ek myself egter meer tyd om weg te gaan en nuwe plekke te ontdek.

Ek geniet Nederland, Chicago en Mauritius, maar eintlik is ek op enige plek waar die son skyn, gelukkig! Ek hou daarvan om te reis, ander omgewings te beleef en nuwe herinneringe te maak.

Musiek en dans is ook groot gunstelinge. Ek geniet dit om na die werk van uitsonderlike kunstenaars te kyk en te luister. En dan is daar my kombuis! Ek hou daarvan om lekker kos te maak, mense oor te nooi en almal om my tafel te laat aansit. Vir my is daar min dinge lekkerder as om kos met ander te deel en na hulle stories te luister. Ek kan ure lank om 'n tafel sit en luister.

My daaglikse stap is egter ononderhandelbaar. Dit gee my energie, maak my kop skoon en laat my goed voel. Die natuur, die son en die beweging doen wondere vir my gemoed.

Ek dink ek het uiteindelik geleer dat herlaai nie noodwendig beteken dat jy niks doen nie. Soms is dit juis om iets te doen waarvoor jy lief is, om nuwe dinge te beleef of om tyd saam met mense deur te bring wat vir jou belangrik is.

Ek is ongelooflik dankbaar vir die energie waarmee ek geseën is. Ek geniet my lewe en probeer elke dag met entoesiasme aanpak. Vir my voel elke dag deesdae soos 'n klein vakansie – selfs wanneer ek besig is!

7 Jy werk op die oomblik aan jou 'reseptebybel'. Wat behels dit?

Ek moes eintlik 'n bakker geword het! My ma kon besonders lekker bak, en ek het van kleins af in die kombuis rondgehang. Sy het ons toegelaat om saam te help, en ek dink dit is waar my liefde vir kook en bak begin het.

Oor die jare het ek 24 resepteboeke vir die maatskappy saamgestel. Van hierdie boeke is selfs by bekende boekwinkels verkoop, en die tantième het na die projek gegaan. Dit was 'n wonderlike manier om ons werk verder te ondersteun.

Van die resepteboeke wat Elain vir Clover geskryf het

Maar my eie resepteversameling het intussen net groter geword. Wanneer ek iets besonders lekker geproe het, wou ek altyd die resep hê. Ek het dit dan self getoets en aangepas waar nodig. Mettertyd het ek 'n versameling van beproefde resepte opgebou – resepte waarvan ek weet dat dit werk en wat ek met vertroue aan ander kan aanbeveel.

Baie van hierdie resepte het 'n storie. Sommige kom van my ma af, ander het ek by vriende, familie en mense wat ek oor die jare ontmoet het, gekry. As my ma vir jou 'n resep gegee het, kon jy maar weet: wanneer jy dit voorsit, gaan iemand vra vir nog!

Ek het besef dat hierdie versameling nie net in my eie kombuis moet bly nie. Daar moet 'n manier wees om dit te bewaar en met ander te deel. Daarom werk ek nou aan my eie reseptebybel.

Ek wil hê dit moet veel meer wees as net 'n boek met bestanddele en aanwysings. Ek wil die lekkerste, getoetste resepte wat ek in my leeftyd versamel het, bymekaarbring en ook die klein geheime deel wat 'n resep soms van goed na besonders verander.

Mense vra my gereeld: “Elain, het jy nie gou vir my 'n goeie resep vir ... nie?” Ek wil graag hê dat hulle eendag toegang sal hê tot 'n versameling waarop hulle kan staatmaak – of hulle nou vir 'n gesin kook, vir vriende onthaal of iets spesiaals vir 'n feesgeleentheid wil voorberei.

Kos het immers 'n besondere manier om mense bymekaar te bring. Dit dra herinneringe, tradisies en liefde van een geslag na die volgende oor. As iemand eendag een van my ma se resepte maak, of 'n gereg ontdek wat hulle gesin se nuwe gunsteling word, sal ek baie gelukkig wees.

My reseptebybel is dus ook 'n manier om 'n stukkie van my eie geskiedenis, my ma se nalatenskap en al die wonderlike mense wat deur kos deel van my lewe geword het, te bewaar.

En natuurlik moet alles lekker wees! Ek deel nie sommer net 'n resep omdat dit mooi op papier lyk nie. Dit moet getoets wees, dit moet werk en dit moet mense laat vra vir nog!

8 Watter toekomsideale koester jy?

Ek het nog groot drome, en ek is dankbaar dat ek steeds soveel dinge het waarna ek kan uitsien. Ek glo nie 'n mens se passie of vermoë om 'n verskil te maak, het 'n vervaldatum nie.

My nuwe werk as huweliksbevestiger is een van die dinge waaroor ek besonder opgewonde is. Ek wil graag hierdie roeping verder ontwikkel en mense bystaan tydens belangrike oomblikke in hulle lewens. Veral mense wat nie aan 'n kerk verbonde is nie, maar steeds 'n betekenisvolle en waardige seremonie verlang, lê my na aan die hart. Ek hoop om deur hierdie werk mense te bemoedig, hoop te gee en 'n positiewe boodskap uit te dra.

My sosiale verantwoordelikheidswerk bly egter net so belangrik. Dit is steeds my absolute passie om vroue wat voorheen min geleenthede gehad het, te help om hulle potensiaal te ontdek en ekonomies sterker te staan. Ek wil graag nuwe geleenthede skep, mense bymekaarbring en waar moontlik hulpbronne en borgskappe bekom wat volhoubare verandering kan meebring. Ek weet uit ondervinding watter verskil dit maak wanneer iemand in jou glo en jou 'n kans gee.

Dan is daar natuurlik nog die wêreld wat ek wil ontdek! Daar is 'n paar plekke op my reislys wat ek nog graag wil besoek, en 'n motorfietstoer in 'n ander land is beslis een van my drome. Ek sal graag met my Harley op nuwe paaie wil ry, nuwe plekke wil ontdek en die wêreld op daardie besondere manier wil beleef.

Bo alles hoop ek om goeie gesondheid te geniet sodat ek kan aanhou doen waarvoor ek geroepe voel. Ek wil steeds leer, nuwe planne maak, mense ontmoet, lekker kos kook, sing, reis en geleenthede aangryp om ander se lewens beter te maak.

Elain doen graag mosaïekwerk

Ek het oor die jare geleer dat 'n mens nie altyd weet waarheen 'n nuwe pad jou gaan lei nie. Soms begin iets kleins en groei dit tot veel meer as wat jy ooit verwag het. Dit het met Clover Mama Afrika gebeur, en ek is opgewonde om te sien wat hierdie nuwe lewensfase nog gaan oplewer.

Ek is 'n baie gelukkige mens. Ek het baie om voor dankbaar te wees, en ek wil die lewe met albei hande aangryp. Daar is nog soveel om te doen, te beleef en te deel.

Ek wil aanhou om 'n verskil te maak, maar ook die lewe voluit geniet. Ek wil met dankbaarheid leef, met entoesiasme droom en met geloof vorentoe stap. En een ding weet ek vir seker: niemand mag my vrede steel nie!

Meer oor Elain

Prof. Elain Vlok is ‘n sosiale verantwoordelikheidsfilantroop, spesialis welstandsberader, huweliksbevestiger en motiveringspreker van Mosselbaai. Sy is die voormalige bestuurder van die Clover Mama Afrika-trust en het talle plaaslike en internasionale toekennings ontvang.

E-posadres: proffie8@gmail.com

Generiese foto: Unsplash

Foto’s van Elain Vlok: verskaf

Next
Next

Michelle Schutte oor vinnig grootword, ‘n World Hair Tour en ma-wees vir vyf kinders