Die keuse om kindervry te bly   

Al meer mans en vroue besluit om nie kinders te hê nie. Wat vuur hierdie besluit aan, hoe behoort dit geneem te word, en watter gevolge kan dit hê? Hierdie artikel het in die November 2023-uitgawe van rooi rose verskyn.

Opvoedkundige sielkundige Lidalize Grober

’n Getroude paartjie hoor dikwels die vraag: “Wanneer begin julle met ’n gesin?”

 “Ons wil nie kinders hê nie” is nie noodwendig die antwoord wat familielede wil hoor nie, maar dis ’n uitkyk wat algemener word.

“Ons onderskei deesdae tussen ‘kindervry’ en ‘kinderloos’,” verduidelik Lidalize Grobler, opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Kinderloos verwys na mense wat kinders sou wou hê, maar nie kan nie – ongeag die rede – terwyl kindervry dui op ’n pertinente besluit om nie kinders te hê nie. Dan is daar ‘nog-nie ouers’, wat beplan om in die toekoms kinders te hê; mense wat onseker is of hulle wel kinders gaan kry; en ambivalente mense wat nie seker is of hulle kinders sou wou hê nie.  

“Hierdie nuanses maak dit moeilik om navorsingsresultate te interpreteer. Studies wat aantoon hoeveel mense nié kinders het nie, ondersoek nie noodwendig die redes nie. Mense trou deesdae ook later, wat die kwessie verder kompliseer. Hoewel plaaslike statistiek moeilik bekombaar is, het ’n onlangse Amerikaanse studie aangedui dat een uit vyf volwassenes nie kinders wil hê nie.

“In my praktyk sien ek toemend tieners, studente en ander mense wat noem dat hul nie kinders wil hê nie,” sê Lidalize. “My indruk is dat mans en vroue wat kinders kry steeds die meerderheid vorm, maar onder 25- tot 35-jariges neem die keuse om kindervry te bly beslis toe. Studies wys dat mense wat vroeg reeds so ‘n besluit neem merendeels daarby hou.”

Watter redes motiveer mense om nie kinders te hê nie?

 

“Volgens navorsers verskaf baie van dié mense nie noodwendig ‘n rede nie,” sê Lidalize. “Dis interessant dat mense wat kinders wíl hê selde gevra word om hul besluit te motiveer, terwyl die keuse om kindervry te bly dikwels die reaksie: ‘Hoekom?’ uitlok.

“Dis ‘n baie persoonlike besluit: die redes wissel. Party mense reken bevolkingsgroei dra grootliks tot ekologiese probleme by en voel dit moet verminder. Ander beskou ons leefwêreld in ‘n negatiewe lig en is huiwerig om ‘n kind die toekoms in te stuur, of sien nie kans om die verantwoordelikheid vir ‘n ander mens se wel en weë te dra nie.

Ekonomiese oorwegings staan dikwels voorop. Wanneer twee inkomstes nodig is om die pot aan die kook te hou, vergroot kinders dié druk. Mense wonder of hulle genoeg verdien om ‘n kind sinvol en gemaklik groot te maak – ook vir die kind se onthalwe.  

“Soms gaan dit nie oor wat mense kan bekostig nie, maar waaraan hulle hul geld wil bestee. DINKS -  Double Income No Kids - kry baie lugtyd op die Internet. Dié paartjies hoef nie vir uitgawes soos geboortes, studiegeld of ‘n erfporsie te begroot nie en kan hul geld na goeddunke bestee.  

Tyd is ‘n groot oorweging. Talle mense besef hoe belangrik dit is om genoeg tyd saam met ‘n kind deur te bring. Faktore soos beperkte kraamverlof en veeleisende beroepe kan hulle twee keer laat dink. Wanneer beide ouers werk, dra albei die verantwoordelikheid om kos te maak, wasgoed te was, handyman te speel, kinders aan te ry … Vroeër was die rolverdeling dalk anders, maar in my ervaring moet paartjies deesdae rondom hierdie verwagtinge kan fleks - anders benadeel dit die welsyn van die huwelik én gesin.

“Party mense glo kindervryheid bied meer geleenthede vir persoonlike vervulling. Mans sowel as vroue wil dalk uitsluitlik op hul loopbaan fokus, gereeld reis, in ander lande gaan werk of hulle kreatief uitleef. Dis ‘n leefstylkeuse wat groter vryheid bied.

“Mense wat kies om kindervry te leef, is nie noodwendig individue wat nie van kinders hou nie. Hulle help dikwels om familie of vriende se kinders groot te maak, te vier en te ondersteun.

“’n Ander vraag is of troeteldiere kinders se plek kan inneem. Diere kan ‘n waardevolle rol in jou lewe speel - die dood van ‘n troeteldier tref party mense net so hard soos dié van ‘n geliefde – maar ek twyfel of troeteldiere die hoofrede is hoekom mense nie kinders wil hê nie.” 


Hoe word hierdie besluit ten beste geneem?  

“Om kindervry te bly is selde ‘n enkelvoudige, eenmalige besluit - eerder ’n deurlopende proses,” meen Lidalize. “‘n Paartjie moet deeglik hieroor reflekteer; rou eerlikheid met hulself en met mekaar is noodsaaklik.

“Die kwessie van ouerskap moet reeds voor die huwelik aangespreek word. Dis onverstandig om te dink jy sal jou maat later oortuig om wel kinders te hê – of kindervry te bly. 

“Daar is ‘n algemene beskouing dat jy iets gaan mis as jy nie kinders het nie en later spyt gaan wees. Dit kan saamhang met die tradisionele siening dat ‘n vrou biologies aanmekaar gesit is om kinders te kry en dat haar waarde eintlik daarin lê, of dat slegs ‘n pa volwaardig man is. Hierteenoor skryf Sue Monk Kidd in The Book of Longings: “A woman can birth something other than children and then mother it with the same sense of purpose, attention and care.”  

“Ongeag of mense kinders wil kry of kindervry wil leef, moet hulle hul besluit deeglik motiveer en hulle afvra: Wat is mý binnebesluit? 

“Niemand moet kinders hê omdat dit ‘die volgende stap’ is of hulle deur hul maat se voorkeur laat lei nie. Later veroorsaak dit groot ongelukkigheid. Ek sien individue wat met verloop van tyd leer om hul eie besluite te neem en hul maat vir ‘n vroeër besluit verwyt. Dan sê die maat: ‘Maar ek het jou nooit gedwing nie!’ 

“Soms beland mense in ‘n ambivalente spasie waar hulle nie kan besluit of hulle kinders wil hê of nie. Hulle leef sonder die vervulling van ouerskap, maar verpas terselfdertyd die moontlikhede wat kindervryheid bied. 

“Ouer mense wat kleinkinders begeer, is dikwels diep teleurgesteld as hul kind nie kinders wil hê nie. Dan sê ek: ‘Onthou, die bewustelike keuse lê nie by jou nie. Hierdie besluit raak nie net jou kind se welsyn nie, maar ook jou potensiële kleinkind s’n.’ 

“Die keuse om kinders te hê - of nie - is in wese ‘n binnevraag. Word stil, raak rustig, en neem jou eie, bewustelike besluit.”

Meer oor Lidalize

Lidalize Grobler is ‘n opvoedkundige sielkundige met ‘n privaatpraktyk in Pretoria.

Webwerf: https://www.lidalizegrobler.com/

E-pos: lidalize@lidalizegrobler.com

Facebook: Lidalize Grobler Educational Psychology Practice

Foto van Lidalize Grobler: verskaf

Ander foto’s: Unsplash

 

Previous
Previous

Can your sensory profile affect your mental health?

Next
Next

The placebo effect: an undervalued tool for health?