đźEerlikheid in julle verhouding: hoe kry paartjies dit reg?
Min verhoudingsmaats kan sĂȘ hulle praat oral en altyd die waarheid, verswyg nóóit iets nie, en systap enige âwit leuentjieâ. Voorligtingsielkundige Ronelle Hart lig die sluier oor grondige redes vir stilswye of leuens. Dit neem twee mense om ân ruimte te skep waar die waarheid welkom is - weet jy en jou maat wat dit verg?
âHet jĂœ dit gedoen?â Jou ma staan met die gebreekte glas in haar hand, en haar uitdrukking voorspel niks goeds nie. Jy het ân keuse. Jy kan erken dat jy die skuldige is, met pynlike gevolge. Of jy kan jok en jou bas red.
âVan kleins af word dit vir ons moeilik gemaak om die waarheid te praat,â sĂȘ Ronelle Hart, voorligtingsielkundige van Johannesburg. âKinders weet dat oortreding van die huisreĂ«ls tot straf lei. Wanneer skulderkenning lyfstraf, die verlies aan ân voorreg of die ouer se misnoeĂ« gaan beteken, is die kans goed dat die waarheid in die stof gaan byt.â
As volwassenes sit ons dikwels diĂ© patroon voort. ân Gebreekte glas is dalk nie meer ân krisis nie, maar om in onguns te kom by jou lewensmaat of werknemer kan ân onplesierige - selfs angswekkende - vooruitsig wees. Om ons prakties en emosioneel te beskerm kan ons ân leuen vertel, of gewoon die ware toedrag van sake verswyg.
Sienings van die waarheid, hoe dit hanteer moet word en wat met oortreders behoort te gebeur, is deur die eeue op baie maniere deur geloofs- en ander gemeenskappe bepaal. Hierdie beskouings het van plek tot plek en tyd tot tyd verskil.
âDie waarheidâ is vandag steeds geen eenvoudige saak nie. Selfs mense met dieselfde agtergrond, soos twee sussies wat in een huis grootword, stem nie noodwendig daaroor saam nie. Wanneer dit gaan oor wie die glas gebreek het, is daar natuurlik ân objektiewe, feitelike toedrag van sake. Die âwaarheidâ in terme van mense se emosionele ervaring van ân situasie is egter ân ander saak. Elkeen ervaar anders.
Watter insigte en riglyne kan ons help om wyser om te gaan met die waarheid, ons verhoudingsgenote, en onsself?
Wat is die geheim?
Op die vraag wat dit vir iemand maklik maak om die waarheid te vertel is die antwoord: ân veilige ruimte.
Dis die vrees vir straf, verwerping of ân ander ongewenste uitkoms wat tot leuens lei. Die Amerikaanse inspirasiespreker dr. John Demartini het ân keer gesĂȘ die beste ding wat mense vir hul verhoudingsmaats kan doen, is om ân veilige ruimte te skep waarin elkeen met vrymoedigheid kan sĂȘ wat hulle dink en voel. Dis ân kragtige uitspraak, maar moeilik om in die praktyk toe te pas.
Hierdie benadering veronderstel ân nieveroordelende emosionele ruimte tussen twee mense. Jy gaan nie sommer jou oordeelsfoute, flaters of misstappe deel met iemand wat oorgehaal sit om ân vonnis oor jou te vel nie. Wanneer die een teenoor wie jy âbiegâ ân deurleefde mens is met begrip vir sy eie Ă©n ander se menswees, kan jy jou hart oopmaak.
âAs dit vir jou maklik is om in ân verhouding die waarheid te praat dui dit op gesonde en heilsame intimiteit,â sĂȘ Ronelle. âBinne die konteks van ân liefdesverhouding is dit realisties om te verwag dat jou maat jou en jou diepste gevoelens aanvaar. Wanneer jy feite verdoesel of verswyg â soos hoeveel geld jy uitgee en of jy gelukkig is in die verhouding â is daar fout. Vra jou af hoekom jy draaie om die waarheid loop.
âIs jy bang vir die gevolge indien jy jou belewenis eerlik sou verwoord? Verwag jy dat die ander persoon jou op een of ander manier gaan straf, deur byvoorbeeld kwaad te word of emosioneel te onttrek?
Read how Imago Relationship Therapy can restore passion and emotional intimacy
Onthou: vrees vernietig verhoudings.
Die fisieke en emosionele stres wat jy ervaar wanneer jy dinge vir jouself hou, benadeel jou én jou verhouding.
âIn my ervaring dui hierdie vrees dikwels op ân mate van emosionele onvolwassenheid in onsself, op ân magswanbalans in die verhouding, of op medeafhanklikheid (co-dependency). ân Voorbeeld van medeafhanklikheid is wanneer my maat alkohol misbruik en ek hom beskerm, of - meer subtiel - wanneer my gemoedstoestand en gevoelens bepaal word deur hoe hy voel.
âDie vrees om openlik te kommunikeer, kan ook verband hou met ân maat wat ân persoonlikheidsversteuring het soos narcisme of sosiopatie. Afhangende van die aard en graad van ân persoonlikheidsversteuring, kan mense wat daaraan ly die waarheid sonder respek behandel. Hulle kan hulself en hul prestasies in ân onrealisties positiewe lig stel, voel hulle het die reg om te jok, of ander meesterlik manipuleer. Omdat hulle uit voeling is met hul eie en ander se diepste emosies, is daar min begrip vir die impak van hul optrede en ân gebrek aan empatie met hul maats.
âHierdie situasie beĂŻnvloed hul verhoudingsmaats se sin vir dit wat reg en waar is. Dit skaad hul vertroue in hul eie oortuigings, en dan is die herstelproses swaar. Soms is die enigste teenmiddel dat so ân maat self leer om deurgaans die waarheid te praat, en besef dat vertroue beteken ons kiĂ©s om die ander een te glo. Wanneer hierdie vertroue verbreek word, kan ons weer kies om die persoon te glo, te vergewe en terug te neem - of om die verhouding te beĂ«indig.
âAs jy onseker voel oor jou verhoudingsmaat of omstandighede, is dit sinvol om ân sielkundige te besoek sodat jy helderheid en perspektief kan kry. Jy hoef nie jou maat saam te neem nie.
âOns innigste behoefte is om gesien en gehoor te word vir wie ons is. As jy ân openhartige verhouding begeer, kan die terapeut jou help kyk of en hoe ân hegte verhouding tot stand gebring kan word. Intimiteit kan net ontstaan waar twee mense hul binneste eerlik met mekaar deel - met ander woorde, waar die waarheid welkom is.â
Die groot leuen: ontrouheid
âWanneer ons ons innerlike waarheid nie kan deel nie, skep dit ân leemte wat ân derde persoon kan betree. Dis verloklik om iemand te kry vir wie jy alles sonder vrees vir veroordeling kan vertel.
âOntrouheid in ân liefdesverhouding noodsaak die voortdurende vertel van leuens, of verswyging van die ware toedrag van sake. Wanneer dit op die lappe kom, is dit meestal nie die seksuele betrokkenheid by iemand anders wat die diepste sny nie, maar die vertrouensbreuk. Dis traumaties om te ontdek dat ân maat oor ân tydperk gejok het, veral wanneer hy of sy herhaaldelik gerusstellend geantwoord het op vrae of daar ân ander persoon op die toneel is.
âIn ân liefdesverhouding aanvaar ons gewoonlik dat albei persone betroubaar is en die waarheid praat. Vertroue vorm tog die basis van enige goeie verhouding, ook vriendskappe. Kom ons agter dat iemand vir ons gejok het, verbreek dit die gevoel van konneksie. Dan is die vraag: âWie is hierdie mens aan wie ek verbind is? Dis iemand wat ek nie ken nie!â
Daar is ân traumatiese verlies aan emosionele veiligheid.
âDit geld ook gevalle waar een van die persone sonder die ander se medewete in onwettige bedrywighede betrokke is, ân verslawing het, of onverantwoordelik met geld omgaan.
âWanneer ân paartjie vir verhoudingsterapie kom, sĂȘ ek in die eerste sessie: âAs een van julle ân ander verhouding het en nie bereid is om eerlik te wees daaroor nie, gaan die terapie nie werk nie.â Hiermee veroordeel ek nie die persoon nie, want ân buite-egtelike verhouding is gewoonlik ân aanduiding van ander emosionele kwessies waarmee daar in individuele terapie gewerk moet word. Nieteenstaande is eerlikheid ân voorvereiste vir doeltreffende verhoudingsterapie.
âDis uiters moeilik om veroordeling, skaamte, blaam of straf in die gesig te staar en te erken: âEk het ân affair.â Min mense sal dit in die eerste ronde doen. Maar verhoudings kan net herstel wanneer hierdie pynlike onthulling gemaak word, juis omdat dit nie net die ontrouheid nie maar die gepaardgaande lae van leuens is wat die pyn veroorsaak.
âMense sĂȘ soms hulle kĂĄn hul maat nie die waarheid vertel nie omdat dit hom/haar te seer sal maak. Dit klink groothartig, maar dis eintlik ân poging tot selfbeskerming. Jy wil nie gekonfronteer word deur jou maat se reaksie nie.
âDie waarheid is dat elkeen van ons verantwoordelik is vir die manier waarop ons reageer. Ander mense maak my nie seer nie; hulle doen of sĂȘ iets wat ân pynlike reaksie in my ontlok. Daarom ervaar een persoon ân situasie as pynlik, en ân ander nie. As jy nie vir jou maat sĂȘ hoe jy jul verhouding beleef nie, ontneem jy hom of haar van die keuse om op die ware toedrag van sake te reageer.
âDie mate waarin jy die waarheid praat, stem dus ooreen met die mate waarin jy dit nodig vind om jouself te beskerm. Loop jy ân pad van aanvaarding van jouself, ander en die wisselvallighede van die lewe, en leer jy dat jy staande kan bly voor ander se deling, word jy toenemend iemand wat eerlik kan wees oor wie jy is, hoe jy voel en dink, en wat jy doen. Ons grootste gawe aan ander is die uitleef van ons outentieke self, want dis hoe ons vir ander ân nieveroordelende ruimte skep.â
Ronelle Hart is ân voorligtingsielkundige met ân privaatpraktyk in Johannesburg: tel. 082 560 2803 of http://www.ronellehartpsychologist.com/
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in rooi rose.
Hooffoto: Unsplash
Ander fotoâs: Pexels