Hoe om ouderdomsgepas met jou kind oor die dood te praat

Ons kan kinders nie weghou van die dood nie: hulle kom dit in rekenaarspeletjies en die media teë. Volwassenes is dalk ongemaklik met die onderwerp, maar sodra ‘n kind direk geraak word, het ons die regte woorde nodig. Alta Bence van die CHOC Childhood Cancer-stigting gee riglyne vir praktiese maniere om die dood te verduidelik, hoe om ons eie hartseer te deel, wanneer ‘n kind ‘n oorledene se liggaam moet sien, en hoe om ‘n kind met ‘n terminale siekte te begelei.   

Kinders maak die beskermingsdrang in ons wakker. Ons hou hulle weg van afgronde, besige kruisings, pornografie, “verkeerde” maats, noem maar op … en ons probeer hulle weghou van die dood: die één ervaring wat elkeen van ons beskore is.

“In ons samelewing is die dood ’n taboe onderwerp, iets wat eerder ontken word,” sê Alta Bence, bestuurder van psigososiale ondersteuningsdienste by CHOC Childhood Cancer Foundation SA. Alta het ’n agtergrond in mediese maatskaplike werk en is die afgelope 24 jaar by pediatriese onkologie-eenhede betrokke. “Die dood was vir my ouers se generasie ’n normale aspek van die lewensiklus. Dikwels het meer as een geslag ’n huis gedeel en as ouma siek geword het, het die kinders haar elke dag gesien totdat sy oorlede is. Gesinslede het haar hand op haar sterfbed vasgehou en soms het die kis op die solder gereed gestaan.

“Ek sal my ma altyd dankbaar wees dat sy met my oor die dood gepraat het. Ek was maar ’n dogtertjie toe ’n ou oom in ons gemeenskap gesterf het. My ma het gehelp om die liggaam uit te lê en my toe kom haal om te gaan kyk. Ek was daarna nooit weer bang vir die dood nie.

ons-praat-nie-graag-oor-die-dood-nie.jpg

“Vandag word die dood na ’n hospies of ’n kliniese, steriele omgewing soos ’n hospitaal verban. Dis verbode terrein, slegs bedoel vir mense wat opgelei is om daarmee te werk.

Foto: Unsplash

“Beslis nie vir ons kinders nie, of só glo ons. Die ironie is dat kinders omring word deur die dood. Dis daagliks ’n tema in die koerant, op die nuus, sosiale media, in flieks en elektroniese speletjies.

“Volwassenes se natuurlike reaksie is om kinders teen die dood te probeer beskerm. Maar as ons dieper kyk, besef ons dat ons eintlik onsself daarteen wil verweer. Talle volwassenes is nooit aan die dood blootgestel nie, of het as kind ’n traumatiese ervaring rondom die dood gehad, en weet nie hoe om die onderwerp aan te raak nie. Hulle dink hulle sal ’n kind se emosies op loop jaag en spaar hulself liewer die ongemak.”


Lees ook: verstaan die sterwensproses - 13 dinge wat jy dalk nie weet nie.


Praat oor die dood, al is dit moeilik

“Dis tragies, want dit bring mee dat die kinders geïsoleer word. Onbeantwoorde vrae maal in hul gedagtes en hulle is oorgelewer aan hul eie vrese en fantasieë. Dié is soms ver van die waarheid, maar dis al waarmee hulle die leemtes in hul kennis kan vul.

“Kinders is fyn waarnemers en sien raak dat familielede ontsteld is wanneer iemand sterf. As die volwassene nie daaroor wil praat nie, vra hulle nie vrae nie. Daar word ’n ‘kontrak’ van wedersydse emosionele beskerming gesluit.

“Dis nie soseer die gebeure wat kinders traumatiseer nie, maar die manier waarop volwassenes die gebeure benader. Kinders kan met enigiets cope as ’n grootmens met wie hulle ’n vertrouensverhouding het, hulle gerusstel, hul vrae eerlik beantwoord en hulle verseker: ‘Hierdie pad stap ons saam.’ Die volwassene hoef nie alwetend te wees nie en kan saam met die kind na antwoorde soek.”

Here’s how to initiate a conversation about death with your loved ones, if the subject is uncomfortable.

Wys gerus jou hartseer

ouers-kan-hul-hartseer-vir-kinders-wys.jpg

“Volwassenes mag maar hul verwondbaarheid vir kinders wys. Op die manier leer kinders dat rou ’n natuurlike reaksie is op die verlies van iemand wat ons liefhet, dat hulle ook hartseer mag voel, en dat dit later weer beter sal gaan.

“Volwassenes is soms bang dat hulle nooit weer gaan ophou as hulle eers begin huil het nie, maar dit verg baie energie om leed te onderdruk. Dit benadeel jou vermoë om die situasie te hanteer. Verduidelik net wat aan die gang is: ‘My hart is seer omdat oom Thys dood is, nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.’

“Kinders trek maklik ’n direkte verband tussen hul eie optrede en iemand se dood. Hulle het dalk met Boetie baklei en die dag daarna is hy oorlede. As die kommunikasiekanale oop is, kan ouers sulke wanopvattings uit die weg ruim.”

“Kinders is van nature nuuskierig, ook oor die dood. Hulle wil byvoorbeeld weet hoe die beddens en die masjiene in die hospitaal werk. Hanteer hul vrae rustig, al klink dit dalk onvanpas. In een geval het ’n maatskaplike werker twee boeties na die hospitaalsaal geneem waar hul tweejarige sussie vroeër aan kanker oorlede is. Sy het vooraf gereël dat hulle die personeel vrae kon vra en hul eie stories kon vertel. Sy het die gesprek gefasiliteer. Dís hoe kinders bemagtig word.”

How do you know if a child who has lost a loved one requires professional help - and what role can BrainWorking® Recursive Therapy play?

Wanneer ‘n troeteldier doodgaan

“’n Troeteldier se dood skep die ideale geleentheid om kinders aan die dood bekend te stel. Moenie die troeteldier summier vervang nie - laat die kinders ’n begrafnis beplan en uitvoer. Laat hulle ook toe om in ’n begraafplaas rond te loop, en gesels met hulle daaroor.

“Wanneer iemand sterf, is dit belangrik dat elke kind op sy ouderdomsvlak gehanteer moet word. ’n Gesprek met ’n laerskoolkind oor selfdood verskil van’n soortgelyke gesprek met ’n tiener. Onthou dat gesprekke oor die dood sterk emosies by albei partye kan ontlok.

Ouderdom en kinders se persepsies van die dood

  • Onder 3 jaar: geen begrip van die dood nie. Reageer op die afwesigheid van die oorledene.

  • 3-5 jaar: sien die dood as slaap. Dink dis voorkombaar, tydelik en omkeerbaar.

  • 6-8 jaar: begin begryp die dood is permanent, maar glo dit gebeur slegs met ander. Konkrete denke, nuuskierig oor die feite. Kan verantwoordelik voel as iemand sterf.

  • 9-11 jaar: die dood is finaal. Praat soms glad nie oor die oorledene nie en gee voor om oukei te wees.

  • 12-14 jaar: het ‘n kognitiewe begrip van die dood, maar treur eenkant en voel dis nodig om “sterk” te wees. Uiters kwetsbaar. Kan riskante gedrag toon.

  • 15-17 jaar: die dood het ‘n groot impak. Treur soos ‘n volwassene, hoewel baie kwetsbaar. Toon ‘n wye reeks emosies en is meer bewus van die self. Kan verantwoordelikhede op hul eie skouers neem wat eintlik vir ouer mense bedoel is.

(Inligting verskaf deur CHOC Childhood Cancer Association SA.)

Wanneer ons oor die dood praat, is woordkeuse belangrik

praat-so-met-jou-kind-oor-die-dood.jpg

“Die dood kan selde in een sessie verduidelik word; dis die beste om die inligting stukstuk oor te dra. Kleiner kinders se aandagspan is kort en hulle vra dieselfde vrae dalk oor en oor.

Foto: Unsplash

“Hoe jonger die kind, hoe noodsaakliker is dit om eufemismes te vermy. As jy sou sê, ‘Oupa is weg,’ kan die kind dalk wonder waarheen Oupa is. Hoe het hy weggeraak? Kinders wat hoor ‘Ons het ons tannie verloor,’ kan aanneem ons sal haar weer kry, soos wat kinders speelgoed verloor en dit weer opspoor. Of hulle kan verwag dat iemand wat ‘op ’n lang reis gegaan het’ weer sal terugkom.

“Waar geloofsoortuigings ter sprake is, moet volwassenes lig trap. Om vir ’n kind te sê ‘Jesus het jou sussie kom haal’ en ‘Hy pluk net die mooiste blommetjies’ skep verwarring. Die kind kan wonder hoekom Jesus hóm nie wou hê nie – is hy dan onkruid? Of hy verstaan nie dat Jesus wat veronderstel is om liefdevol en goed te wees sy sussie weggevat en soveel hartseer veroorsaak het nie. Stel die boodskap in perspektief: ‘Sussie is dood aan kanker, en sy is nou by Jesus.’”

Hou dit eenvoudig en konkreet

Hoe kan jy die dood prakties aan ’n jong kind verduidelik?

“Jy kan begin deur te sê ons kan almal doodgaan. Sommige mense gaan dood wanneer hulle ’n ouma is, of ’n mamma, of partykeer wanneer hulle ’n kind is.

“Wanneer iemand doodgaan, kan hulle nie meer die dinge voel wat ek en jy voel nie. Hulle ervaar nie meer hartseer, pyn, honger of koue nie. Omdat hul liggaam dood is, kan dié deel van hulle wat ons nie kan sien nie – hul siel, of gees – nie meer in hul liggaam woon nie. Daardie deel het die persoon help voel en loop en praat, en kan dit nie meer doen nie omdat die liggaam dood is. Daardie deel is nou in die hemel (of hoe jy dit ook al wil stel.)

kinders-moet-verstaan-hoekom-ons-mense-begrawe-of-veras.jpg

“Ons kan die liggaam nie by ons hou nie. Dalk het jy al gesien dat ’n dooie voëltjie se lyfie disintegreer. Jy sal ook nie daarvan hou as ons Oupa net buitekant neersit en los nie. Ons moet besluit wat om met die liggaam te doen. Ons kan dit in ’n kis sit en dit in die grond begrawe, in ’n begraafplaas waar baie ander mense se liggame begrawe is.

“Of ons kan dit na ’n ander plek neem waar dit in ’n klein kamertjie gesit sal word. In dié kamertjie is ’n warm vuur wat die liggaam tot as verbrand. Ons noem dit ’n krematorium. Onthou, die persoon kan niks voel nie, want sy liggaam is dood. As ons wil, kan ons die houer met die as in die grond begrawe, of in ’n spesiale muur sit, of op ’n spesiale plek gaan strooi.

Foto: Unsplash

“Onthou, die persoon kan niks voel nie, want sy liggaam is dood. As ons wil, kan ons die houer met die as in die grond begrawe, of in ’n spesiale muur sit, of op ’n spesiale plek gaan strooi.

“Indien die persoon in ’n motorongeluk dood is, kan jy verduidelik wat ’n ongeluk is. Indien dit moontlik is, kan ’n vriend of familielid wat minder getraumatiseer is, die kind na die plek neem waar die ongeluk gebeur het. Dit help ’n kind met die voorstelling en verwerking van die voorval.”

Moet ‘n kind die oorledene se liggaam sien?

“’n Groot vraag is of ’n kind die oorledene se liggaam moet sien. Daar is geen regte of verkeerde antwoord nie - vra die kind! Hoe die kind voorberei en begelei word, is natuurlik van die grootste belang. Volwassenes sê graag: ‘Onthou liewer die persoon soos hy was,’ maar die kind moet die keuse hê. Laat ’n kalm volwassene eers na die liggaam gaan kyk en dan met die kind kom praat: ‘Omdat dit ’n ongeluk was, het Pappa ’n lang sny op sy voorkop. Hy lyk nie meer soos altyd nie.’ In erge gevalle verduidelik jy dat Pappa se liggaam baie seergekry het en dat ons dit daarom nie kan sien nie.”

Hoe om kinders op ‘n begrafnis voor te berei

“Die begrafnis of gedenkdiens moet ook stuksgewys verduidelik word: “Môre gaan baie mense by die kerk bymekaarkom om vir Pappa tot siens te sê. Hulle gaan oor hom praat en onthou wat vir hulle spesiaal was. Van die mense gaan baie hartseer wees, en dis normaal. Daar gaan musiek gespeel word,” ensovoorts.

“Betrek kinders by die seremonie. Dit bevestig hul verhouding met die oorledene. ’n Kleintjie kan programme by die deur uitdeel, en ouer kinders kan ’n gedig voorlees of musiek speel. Dit laat die kind immers voel: Dit was mý pappa.”

Wanneer ‘n kind terminaal siek is

“Die dood is nie net ’n verskrikking nie – dis ook iets heiligs. Dis ’n onbeskryflike voorreg om hierdie belewenis met gesinne te mag deel. My ervaring in pediatriese onkologieafdelings het my geleer kinders wéét wanneer hulle gaan sterf.

“My span maatskaplike werkers praat selde direk met ’n pasiënt oor die dood, tensy die ouers hulle vra - ouers wil dit graag op hul eie manier benader. Ons berei ouers wel voor om te luister. Kinders sal voelers uitsteek en as ouers dit afmaak met: ‘Moenie so praat nie, jy gaan gesond word,’ kry die kind die boodskap dat die onderwerp taboe is.

“Vir ouers is so ’n gesprek onvoorstelbaar moeilik maar om daarby betrek te word, is ’n kosbare geskenk aan hulle van hul kind. Kinders gebruik simboliese taal om na die dood te verwys. Hulle praat van Jesus, lig, engele, ouma wat oorlede is, en so meer.

sterwende-kinders-kan-in-simboliese-taal-praat.jpg

“Een sterwende vierjarige het vir sy ma gesê daar is ’n groot rivier en sy oom staan aan die anderkant van die rivier en roep na hom. Sy ma het gesê in die Xhosa-kultuur simboliseer water die dood. Die oom, wat hy in fyn besonderhede beskryf het, is reeds voor sy geboorte oorlede.

“As die kind nog jonk is, is dit die beste om in dieselfde simboliese taal te praat en byvoorbeeld te vra: ‘Hoe lyk die rivier?’ Met ouer kinders kan jy ’n ‘normale’ gesprek voer.

“Soms praat kinders met familielede en vra of hulle na Pappa of Mamma sal omsien as hulle nie meer daar is nie. Een dogtertjie het haar hoogswanger tannie gevra of haar ma, ’n enkelouer, kon help om na die baba te kyk. Sy was sterwend, maar het dae lank aan die lewe bly klou. Twee uur ná die baba se geboorte is sy dood.

“Een meisie het vir ’n fasiliteerder vertel sy droom elke nag van ’n bus wat verbykom. Daar is plek vir haar, maar haar ouers wil nie hê sy moet opklim nie. Nadat hulle hul dogter verseker het dat sy die bus kon haal, is sy dood.

“Kinders het ‘toestemming’ nodig om te sterf. Hulle moet weet dié wat agterbly, sal baie hartseer wees en hulle geweldig mis, maar dat hulle mag gaan. Indien dit ouers se oortuiging is, kan die ouers sê: ‘Wanneer ons sterf en in die hemel kom, sal jy daar wees.’

“As iemand oud genoeg is om lief te hê, is hulle oud genoeg om te rou. Op dié pad kan ons na aan ons kinders bly.”

Kontakbesonderhede

CHOC: 086 111 3500 of www.choc.org.za

Alta Bence, bestuurder van psigososiale ondersteuningsdienste by CHOC Childhood Cancer Foundation SA, het ’n agtergrond in mediese maatskaplike werk en is die afgelope 24 jaar by pediatriese onkologie-eenhede betrokke.

Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in rooi rose.

Foto’s: Pexels, tensy anders vermeld. Modelle is gebruik.

Previous
Previous

How BWRT eases children’s experiences of death and trauma

Next
Next

My partner has erectile dysfunction – please help!