đźHoe om ouderdomsgepas met jou kind oor die dood te praat
Ons kan kinders nie weghou van die dood nie: hulle kom dit in rekenaarspeletjies en die media teĂ«. Volwassenes is dalk ongemaklik met die onderwerp, maar sodra ân kind direk geraak word, het ons die regte woorde nodig. Alta Bence van die CHOC Childhood Cancer-stigting gee riglyne vir praktiese maniere om die dood te verduidelik, hoe om ons eie hartseer te deel, wanneer ân kind ân oorledene se liggaam moet sien, en hoe om ân kind met ân terminale siekte te begelei.
Kinders maak die beskermingsdrang in ons wakker. Ons hou hulle weg van afgronde, besige kruisings, pornografie, âverkeerdeâ maats, noem maar op ⊠en ons probeer hulle weghou van die dood: die één ervaring wat elkeen van ons beskore is.
âIn ons samelewing is die dood ân taboe onderwerp, iets wat eerder ontken word,â sĂȘ Alta Bence, bestuurder van psigososiale ondersteuningsdienste by CHOC Childhood Cancer Foundation SA. Alta het ân agtergrond in mediese maatskaplike werk en is die afgelope 24 jaar by pediatriese onkologie-eenhede betrokke. âDie dood was vir my ouers se generasie ân normale aspek van die lewensiklus. Dikwels het meer as een geslag ân huis gedeel en as ouma siek geword het, het die kinders haar elke dag gesien totdat sy oorlede is. Gesinslede het haar hand op haar sterfbed vasgehou en soms het die kis op die solder gereed gestaan.
âEk sal my ma altyd dankbaar wees dat sy met my oor die dood gepraat het. Ek was maar ân dogtertjie toe ân ou oom in ons gemeenskap gesterf het. My ma het gehelp om die liggaam uit te lĂȘ en my toe kom haal om te gaan kyk. Ek was daarna nooit weer bang vir die dood nie.
âVandag word die dood na ân hospies of ân kliniese, steriele omgewing soos ân hospitaal verban. Dis verbode terrein, slegs bedoel vir mense wat opgelei is om daarmee te werk.
Foto: Unsplash
âBeslis nie vir ons kinders nie, of sĂł glo ons. Die ironie is dat kinders omring word deur die dood. Dis daagliks ân tema in die koerant, op die nuus, sosiale media, in flieks en elektroniese speletjies.
âVolwassenes se natuurlike reaksie is om kinders teen die dood te probeer beskerm. Maar as ons dieper kyk, besef ons dat ons eintlik onsself daarteen wil verweer. Talle volwassenes is nooit aan die dood blootgestel nie, of het as kind ân traumatiese ervaring rondom die dood gehad, en weet nie hoe om die onderwerp aan te raak nie. Hulle dink hulle sal ân kind se emosies op loop jaag en spaar hulself liewer die ongemak.â
Lees ook: verstaan die sterwensproses - 13 dinge wat jy dalk nie weet nie.
Praat oor die dood, al is dit moeilik
âDis tragies, want dit bring mee dat die kinders geĂŻsoleer word. Onbeantwoorde vrae maal in hul gedagtes en hulle is oorgelewer aan hul eie vrese en fantasieĂ«. DiĂ© is soms ver van die waarheid, maar dis al waarmee hulle die leemtes in hul kennis kan vul.
âKinders is fyn waarnemers en sien raak dat familielede ontsteld is wanneer iemand sterf. As die volwassene nie daaroor wil praat nie, vra hulle nie vrae nie. Daar word ân âkontrakâ van wedersydse emosionele beskerming gesluit.
âDis nie soseer die gebeure wat kinders traumatiseer nie, maar die manier waarop volwassenes die gebeure benader. Kinders kan met enigiets cope as ân grootmens met wie hulle ân vertrouensverhouding het, hulle gerusstel, hul vrae eerlik beantwoord en hulle verseker: âHierdie pad stap ons saam.â Die volwassene hoef nie alwetend te wees nie en kan saam met die kind na antwoorde soek.â
Hereâs how to initiate a conversation about death with your loved ones, if the subject is uncomfortable.
Wys gerus jou hartseer
âVolwassenes mag maar hul verwondbaarheid vir kinders wys. Op die manier leer kinders dat rou ân natuurlike reaksie is op die verlies van iemand wat ons liefhet, dat hulle ook hartseer mag voel, en dat dit later weer beter sal gaan.
âVolwassenes is soms bang dat hulle nooit weer gaan ophou as hulle eers begin huil het nie, maar dit verg baie energie om leed te onderdruk. Dit benadeel jou vermoĂ« om die situasie te hanteer. Verduidelik net wat aan die gang is: âMy hart is seer omdat oom Thys dood is, nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.â
âKinders trek maklik ân direkte verband tussen hul eie optrede en iemand se dood. Hulle het dalk met Boetie baklei en die dag daarna is hy oorlede. As die kommunikasiekanale oop is, kan ouers sulke wanopvattings uit die weg ruim.â
âKinders is van nature nuuskierig, ook oor die dood. Hulle wil byvoorbeeld weet hoe die beddens en die masjiene in die hospitaal werk. Hanteer hul vrae rustig, al klink dit dalk onvanpas. In een geval het ân maatskaplike werker twee boeties na die hospitaalsaal geneem waar hul tweejarige sussie vroeĂ«r aan kanker oorlede is. Sy het vooraf gereĂ«l dat hulle die personeel vrae kon vra en hul eie stories kon vertel. Sy het die gesprek gefasiliteer. DĂs hoe kinders bemagtig word.â
How do you know if a child who has lost a loved one requires professional help - and what role can BrainWorkingÂź Recursive Therapy play?
Wanneer ân troeteldier doodgaan
âân Troeteldier se dood skep die ideale geleentheid om kinders aan die dood bekend te stel. Moenie die troeteldier summier vervang nie - laat die kinders ân begrafnis beplan en uitvoer. Laat hulle ook toe om in ân begraafplaas rond te loop, en gesels met hulle daaroor.
âWanneer iemand sterf, is dit belangrik dat elke kind op sy ouderdomsvlak gehanteer moet word. ân Gesprek met ân laerskoolkind oor selfdood verskil vanân soortgelyke gesprek met ân tiener. Onthou dat gesprekke oor die dood sterk emosies by albei partye kan ontlok.
Ouderdom en kinders se persepsies van die dood
Onder 3 jaar: geen begrip van die dood nie. Reageer op die afwesigheid van die oorledene.
3-5 jaar: sien die dood as slaap. Dink dis voorkombaar, tydelik en omkeerbaar.
6-8 jaar: begin begryp die dood is permanent, maar glo dit gebeur slegs met ander. Konkrete denke, nuuskierig oor die feite. Kan verantwoordelik voel as iemand sterf.
9-11 jaar: die dood is finaal. Praat soms glad nie oor die oorledene nie en gee voor om oukei te wees.
12-14 jaar: het ân kognitiewe begrip van die dood, maar treur eenkant en voel dis nodig om âsterkâ te wees. Uiters kwetsbaar. Kan riskante gedrag toon.
15-17 jaar: die dood het ân groot impak. Treur soos ân volwassene, hoewel baie kwetsbaar. Toon ân wye reeks emosies en is meer bewus van die self. Kan verantwoordelikhede op hul eie skouers neem wat eintlik vir ouer mense bedoel is.
(Inligting verskaf deur CHOC Childhood Cancer Association SA.)
Wanneer ons oor die dood praat, is woordkeuse belangrik
âDie dood kan selde in een sessie verduidelik word; dis die beste om die inligting stukstuk oor te dra. Kleiner kinders se aandagspan is kort en hulle vra dieselfde vrae dalk oor en oor.
Foto: Unsplash
âHoe jonger die kind, hoe noodsaakliker is dit om eufemismes te vermy. As jy sou sĂȘ, âOupa is weg,â kan die kind dalk wonder waarheen Oupa is. Hoe het hy weggeraak? Kinders wat hoor âOns het ons tannie verloor,â kan aanneem ons sal haar weer kry, soos wat kinders speelgoed verloor en dit weer opspoor. Of hulle kan verwag dat iemand wat âop ân lang reis gegaan hetâ weer sal terugkom.
âWaar geloofsoortuigings ter sprake is, moet volwassenes lig trap. Om vir ân kind te sĂȘ âJesus het jou sussie kom haalâ en âHy pluk net die mooiste blommetjiesâ skep verwarring. Die kind kan wonder hoekom Jesus hĂłm nie wou hĂȘ nie â is hy dan onkruid? Of hy verstaan nie dat Jesus wat veronderstel is om liefdevol en goed te wees sy sussie weggevat en soveel hartseer veroorsaak het nie. Stel die boodskap in perspektief: âSussie is dood aan kanker, en sy is nou by Jesus.ââ
Hou dit eenvoudig en konkreet
Hoe kan jy die dood prakties aan ân jong kind verduidelik?
âJy kan begin deur te sĂȘ ons kan almal doodgaan. Sommige mense gaan dood wanneer hulle ân ouma is, of ân mamma, of partykeer wanneer hulle ân kind is.
âWanneer iemand doodgaan, kan hulle nie meer die dinge voel wat ek en jy voel nie. Hulle ervaar nie meer hartseer, pyn, honger of koue nie. Omdat hul liggaam dood is, kan diĂ© deel van hulle wat ons nie kan sien nie â hul siel, of gees â nie meer in hul liggaam woon nie. Daardie deel het die persoon help voel en loop en praat, en kan dit nie meer doen nie omdat die liggaam dood is. Daardie deel is nou in die hemel (of hoe jy dit ook al wil stel.)
âOns kan die liggaam nie by ons hou nie. Dalk het jy al gesien dat ân dooie voĂ«ltjie se lyfie disintegreer. Jy sal ook nie daarvan hou as ons Oupa net buitekant neersit en los nie. Ons moet besluit wat om met die liggaam te doen. Ons kan dit in ân kis sit en dit in die grond begrawe, in ân begraafplaas waar baie ander mense se liggame begrawe is.
âOf ons kan dit na ân ander plek neem waar dit in ân klein kamertjie gesit sal word. In diĂ© kamertjie is ân warm vuur wat die liggaam tot as verbrand. Ons noem dit ân krematorium. Onthou, die persoon kan niks voel nie, want sy liggaam is dood. As ons wil, kan ons die houer met die as in die grond begrawe, of in ân spesiale muur sit, of op ân spesiale plek gaan strooi.
Foto: Unsplash
âOnthou, die persoon kan niks voel nie, want sy liggaam is dood. As ons wil, kan ons die houer met die as in die grond begrawe, of in ân spesiale muur sit, of op ân spesiale plek gaan strooi.
âIndien die persoon in ân motorongeluk dood is, kan jy verduidelik wat ân ongeluk is. Indien dit moontlik is, kan ân vriend of familielid wat minder getraumatiseer is, die kind na die plek neem waar die ongeluk gebeur het. Dit help ân kind met die voorstelling en verwerking van die voorval.â
Moet ân kind die oorledene se liggaam sien?
âân Groot vraag is of ân kind die oorledene se liggaam moet sien. Daar is geen regte of verkeerde antwoord nie - vra die kind! Hoe die kind voorberei en begelei word, is natuurlik van die grootste belang. Volwassenes sĂȘ graag: âOnthou liewer die persoon soos hy was,â maar die kind moet die keuse hĂȘ. Laat ân kalm volwassene eers na die liggaam gaan kyk en dan met die kind kom praat: âOmdat dit ân ongeluk was, het Pappa ân lang sny op sy voorkop. Hy lyk nie meer soos altyd nie.â In erge gevalle verduidelik jy dat Pappa se liggaam baie seergekry het en dat ons dit daarom nie kan sien nie.â
Hoe om kinders op ân begrafnis voor te berei
âDie begrafnis of gedenkdiens moet ook stuksgewys verduidelik word: âMĂŽre gaan baie mense by die kerk bymekaarkom om vir Pappa tot siens te sĂȘ. Hulle gaan oor hom praat en onthou wat vir hulle spesiaal was. Van die mense gaan baie hartseer wees, en dis normaal. Daar gaan musiek gespeel word,â ensovoorts.
âBetrek kinders by die seremonie. Dit bevestig hul verhouding met die oorledene. ân Kleintjie kan programme by die deur uitdeel, en ouer kinders kan ân gedig voorlees of musiek speel. Dit laat die kind immers voel: Dit was mĂœ pappa.â
Wanneer ân kind terminaal siek is
âDie dood is nie net ân verskrikking nie â dis ook iets heiligs. Dis ân onbeskryflike voorreg om hierdie belewenis met gesinne te mag deel. My ervaring in pediatriese onkologieafdelings het my geleer kinders wéét wanneer hulle gaan sterf.
âMy span maatskaplike werkers praat selde direk met ân pasiĂ«nt oor die dood, tensy die ouers hulle vra - ouers wil dit graag op hul eie manier benader. Ons berei ouers wel voor om te luister. Kinders sal voelers uitsteek en as ouers dit afmaak met: âMoenie so praat nie, jy gaan gesond word,â kry die kind die boodskap dat die onderwerp taboe is.
âVir ouers is so ân gesprek onvoorstelbaar moeilik maar om daarby betrek te word, is ân kosbare geskenk aan hulle van hul kind. Kinders gebruik simboliese taal om na die dood te verwys. Hulle praat van Jesus, lig, engele, ouma wat oorlede is, en so meer.
âEen sterwende vierjarige het vir sy ma gesĂȘ daar is ân groot rivier en sy oom staan aan die anderkant van die rivier en roep na hom. Sy ma het gesĂȘ in die Xhosa-kultuur simboliseer water die dood. Die oom, wat hy in fyn besonderhede beskryf het, is reeds voor sy geboorte oorlede.
âAs die kind nog jonk is, is dit die beste om in dieselfde simboliese taal te praat en byvoorbeeld te vra: âHoe lyk die rivier?â Met ouer kinders kan jy ân ânormaleâ gesprek voer.
âSoms praat kinders met familielede en vra of hulle na Pappa of Mamma sal omsien as hulle nie meer daar is nie. Een dogtertjie het haar hoogswanger tannie gevra of haar ma, ân enkelouer, kon help om na die baba te kyk. Sy was sterwend, maar het dae lank aan die lewe bly klou. Twee uur nĂĄ die baba se geboorte is sy dood.
âEen meisie het vir ân fasiliteerder vertel sy droom elke nag van ân bus wat verbykom. Daar is plek vir haar, maar haar ouers wil nie hĂȘ sy moet opklim nie. Nadat hulle hul dogter verseker het dat sy die bus kon haal, is sy dood.
âKinders het âtoestemmingâ nodig om te sterf. Hulle moet weet diĂ© wat agterbly, sal baie hartseer wees en hulle geweldig mis, maar dat hulle mag gaan. Indien dit ouers se oortuiging is, kan die ouers sĂȘ: âWanneer ons sterf en in die hemel kom, sal jy daar wees.â
âAs iemand oud genoeg is om lief te hĂȘ, is hulle oud genoeg om te rou. Op diĂ© pad kan ons na aan ons kinders bly.â
Luister ook na Riette Rust se episode oor liefde, selfdood, naasbestaandes se verantwoordelikheid, en vergifnis.
Kontakbesonderhede
CHOC: 086 111 3500 of www.choc.org.za
Alta Bence, bestuurder van psigososiale ondersteuningsdienste by CHOC Childhood Cancer Foundation SA, het ân agtergrond in mediese maatskaplike werk en is die afgelope 24 jaar by pediatriese onkologie-eenhede betrokke.
Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in rooi rose.
Fotoâs: Pexels, tensy anders vermeld. Modelle is gebruik.