đźAlzheimersiekte: maniere om die risiko te verminder
Lei veroudering en siekte noodwendig tot kognitiewe inperking? Nee, sĂȘ dr. Rayne Stroebel. Hy bespreek oorsake van Alzheimersiekte - wat onverwerkte trauma kan insluit, die rol van oorerflikheid, moontlike simptome en die versorging van mense met diĂ© siekte. Rayne verduidelik hoe om breingesondheid te bevorder en watter praktiese leefstylveranderinge demensie kan help voorkom. Hierdie artikel het in die Maart 2024-uitgawe van ârooi roseâ verskyn.
Twee van die grootste vrese wat met ouer word gepaard gaan, is fisieke en verstandelike agteruitgang. Hoewel ouderdom die belangrikste risikofaktor is in die ontwikkeling van demensie, lei veroudering nie noodwendig tot kognitiewe inperking nie. Eenvoudige leefstylveranderings kan diĂ© risiko verminder en ân gesonder brein verseker.
âDemensie is ân oorkoepelende term vir meer as 200 verskillende neurokognitiewe toestande waarvan Alzheimersiekte die algemeenste is,â verduidelik Rayne Stroebel, doktor in gerontologie van Kaapstad. âWeens die stigma wat aan die woord âdemensieâ kleef, is dit jare gelede uit die internasionale gids vir geestesgesondheidspraktisyns, die DSM-V, verwyder. Interessant genoeg het verskeie Afrika-tale geen woord vir demensie nie.
âVolgens die WĂȘreldgesondheidsorganisasie vernietig demensie met verloop van tyd senuweeselle en beskadig dit die brein. Ten spyte daarvan dat die persoon se bewussyn nie aangetas word nie, gaan demensie gewoonlik gepaard met veranderinge in bui, emosionele beheer, motivering en gedrag, byvoorbeeld die uitvoering van alledaaglikse take.
âOngelukkig is daar geen betroubare Suid-Afrikaanse statistiek rakende die voorkoms van Alzheimersiekte (AS) nie. WĂȘreldwyd word al meer mense op ân vroeĂ« ouderdom hiermee gediagnoseer. Die diagnose is kompleks en behels die beginsel van uitsluiting.
Foto: Pexels
âSekere toestande kan met demensie verwar word, soos langdurige depressie of delirium - ân akute toestand wat onmiddellik intree as gevolg van skok, trauma, alkohol- of dwemmisbruik, hospitalisasie, narkose, tiroĂŻedkomplikasies en so meer. Daarenteen ontwikkel demensie oor baie jare.â
Alzheimersiekte, leefstylfaktore, trauma, stres en oorerflikheid
Wat veroorsaak Alzheimersiekte?
âWetenskaplikes is onseker oor die direkte oorsake. Ons weet wel dat sekere leefstylfaktore die risiko op demensie verhoog, soos ân ongebalanseer dieet, diabetes, ân sittende leefstyl, ân gebrek aan oefening, obesiteit, kardiovaskulĂȘre siektes, ân oormaat rook of alkohol, blootstelling aan giftige omgewingsgasse, depressie en ân leefstyl sonder stimulasie of innovering. Soms ontwikkel demensie nĂĄ ân beroerte, herhaalde fisieke breinbeserings, infeksies soos MIV, en ander faktore.
âIn my werk met mense met demensie ervaar ek toenemend dat onverwerkte trauma ân kernrol speel. Die ouer geslag sit met diepgaande, onopgeloste trauma weens kwessies soos apartheid, die grensoorlog, agterstraataborsies en die onsimpatieke hantering van miskrame. Baie min van hulle het terapie gekry. Volgens navorsingstudies verhoog blootstelling aan ongunstige kinderjare-ervarings, dit wil sĂȘ voor 18 jaar, ook die risiko om as volwassene AS te ontwikkel.
Foto: Pexels
âAfgesien van trauma is baie mense se spanningsvlakke hemelhoog; dink maar aan die pandemie, ekonomiese uitdagings en die oorloĂ« wat nou plaasvind. ân Onophoudelike stroom van slegte nuus en geweld vloei oor ons skerms.
âMense vra dikwels of AS oorerflik is. Hoewel genetiese toetsing ân predisposisie om AS te kry kan aantoon, is die ontwikkeling van AS niĂ© ân voldonge feit nie. Die risiko is bloot groter; as jy dit weet, kan jy die nodige stappe neem.â
Die geheime wapen: neuroplastisiteit
âNeuroplastisiteit dui op die brein se vermoĂ« om deurlopend nuwe neurologiese paadjies te vorm wat breinreserwes kan opbou. DiĂ© reserwes kan die uitwerking van AS op die brein teenwerk of aansienlik vertraag.
âEk verduidelik dit graag sĂł: indien die nasionale pad verspoel het, moet jy ompaaie gebruik om by jou bestemming uit te kom. Indien een deel van jou brein nie doeltreffend funksioneer nie, moet daar genoeg alternatiewe roetes wees om daarvoor te kompenseer.
Foto: Unsplash
âAlzheimersiekte affekteer nie in alle gevalle dieselfde deel van die brein nie. Die miniskule area wat tipies geraak word, kan slegs met die mees gesofistikeerde toerusting geĂŻdentifiseer word. ân PET- of MRI-skandering sal atrofie of agteruitgang in byvoorbeeld die frontale lob aandui. Die res van die brein makeer niks.
âDie beste voorsorgmaatreĂ«l wat ons kan tref, is om betyds breinreserwes op te bou wat vir moontlike atrofie kan kompenseer. Hoe jonger ons daarmee begin, hoe beter, maar dis nooit te laat om nuwe neurologiese paaie te skep nie.â
Hoe bou ons betyds breinreserwes op?
âDeur jou leefstyl aan te pas om optimale breingesondheid te verseker (raadpleeg die wenke onder aan die artikel), deurentyd nuwe dinge te leer en nuwe ervarings te hĂȘ,â sĂȘ Rayne. âRy ân ander pad werk toe. Moenie net op jou werk fokus nie; kweek ân wye belangstellingsveld. Vroue vaar in diĂ© opsig dikwels beter as mans omdat baie van hulle kind grootmaak, ân man gelukkig hou Ă©n ân werk en huishouding behartig. Hoe meer multi-sensories of multi-stimulerend jou omgewing is, hoe meer nuwe breinpaadjies gaan jy vorm.
Foto: Pexels
âDie bekende Nonnestudie Gerig op Veroudering en AS het van hierdie beginsels toepaslik geĂŻllustreer. Dit het in 1986 afgeskop en 678 Rooms-Katolieke nonne betrek. Elkeen het ingestem om by afsterwe haar brein vir navorsingsdoeleindes beskikbaar te stel.
âVan die nonne was tot en met hul dood nog helderdenkend en aktief, ten spyte daarvan dat nadoodse MRI-skanderings breinletsels soos diĂ© van Alzheimersiekte en/of ân sterk genetiese predisposie vir AS aangedui het.
âFaktore soos ân hoĂ«r opvoedingspeil, ân ryk gedagtewĂȘreld en woordeskat asook ân positiewe instelling en dankbaarheid het omgekeerd met Alzheimersimptome gekorreleer. Deelnemers wat aan ân daaglikse vorm van oefening deelgeneem het, was meer geneig om hul kognitiewe vermoĂ«ns tydens veroudering te behou - selfs diĂ© wat eers later in hul lewe begin oefen het.
âKortom: ouderdom en siekte waarborg niĂ© kognitiewe inperking nie.â
Foto: Pexels, model gebruik
Wanneer jy vermoed jy het Alzheimersiekte
âMense raak gewoonlik bekommerd wanneer hulle sukkel met basiese funksies soos om motor te bestuur, met geld te werk, nie weet wat in ân geselskap aangaan nie of dikwels vergeet,â sĂȘ Rayne.
âAlzheimersimptome behels nie dat jy jou sleutels verlĂȘ of in die kombuis kom en wonder wat jy daar maak nie. Dis wanneer jy in die kombuis instap om tee te maak en die ketel sien, maar nie weet wat om volgende te doen nie.
âNavorsingstudies toon mense leef tot vyf jaar lank met die wete dat daar kognitief iets haper. Hulle kan ongelooflik kreatief raak om die tekens te verbloem, soos om sticky notes met doenlysies oral te plak.
âDie beginstadium van AS gaan dikwels met diep depressie gepaard. Dit vererger die ervaring van kognitiewe inperking.
âDis uiters belangrik dat mense so gou moontlik hulp soek. Soms kan medikasie ân verskil maak, maar nog belangriker is tydige ingrepe rakende oefening, sosialisering en dieet en terapie vir trauma. ân Diagnose van AS is niĂ© ân doodvonnis nie.
âBelangrik: moenie vroegtydig na ân diagnose van demensie gaan soek nie. Gaan spreek ân internis of geriater, lug jou kommer en stel vas wat in jou liggaam en siel gebeur.â
Here Rayne considers whether dementia - a disease of the brain - also affects the soul.
Foto: Pexels
Simptome van Alzheimersiekte
âElke mens met AS se simptome lyk anders. Dit hang af van hul persoonlikheidstipe, sosiale en kulturele agtergrond, fisieke gesondheid, spirituele uitkyk, ensovoorts.
âVerder word mense met demensie se reaksie op hul omgewing dikwels verkeerd geĂŻnterpreteer. Hulle mag so gefrustreerd raak dat hulle begin skree. Hulle skree nie omdat hulle demensie het nie - ek doen dit self in die verkeer wanneer ân taxi voor my inry!
âIn werklikheid kommunikeer hulle: âEk verstaan nie, ek weet nie wat aangaan nie.â Dis hoekom hulle wegloop, weier om hul kos te eet of in die potplant urineer. Die gewoontes wat ons vroeg-vroeg aanleer, soos stort, aantrek en eet, is die vaardighede wat ons laaste verloor. Dit behels spier- en sellulĂȘre intelligensie. Die omgewing kan egter veroorsaak dat iemand vreemde goed doen.â
Versorging van iemand met Alzheimersiekte
âIndien jy iemand met AS versorg, moet jy soos ân speurder optree. Wat is hul behoeftes en wat staan in hul pad? Brand die toilet se lig byvoorbeeld snags en staan die deur oop?
Foto: Pexels
âOp ân ander vlak: word hulle met respek hanteer? Hoewel hulle dalk nie samehangend kan kommunikeer nie, kan hulle steeds kwetsbaar voel wanneer hulle nie netjies aangetrek is nie. Dink maar hoe moeilik dit moet wees as jy nie die regte woorde kan vind om jou gevoelens of behoeftes uit te druk nie.
âNamate ons Alzheimersiekte beter leer verstaan, kan ons mense wat daarmee saamleef beter versorg - en dit doeltreffender voorkom.â
Rayne se wenke: Hou jou liggaam en brein sĂł gesond
âDeur eenvoudige leefstylveranderings kan jy die risiko op Alzheimersiekte beduidend verminder,â sĂȘ Rayne.
Foto: Pexels
Gereelde oefening voorsien die brein van suurstof â klim trappe waar moontlik, maak tuin of stap gereeld.
Spandeer minstens 15 minute per dag in die son. Vitamine D is noodsaaklik vir spiersoepelheid, en die ware Jakob word beter geabsorbeer as aanvullings.
Spreek gehoorverlies onmiddellik aan. Swak gehoor lei tot ondoeltreffende kommunikasie, ongegronde aannames en vereensaming. Dit dra by tot kognitiewe inperking.
Kry genoeg restoratiewe slaap sodat die hormone noodsaaklik vir optimale funksionering vrygestel kan word. ân Slaappil bewerkstellig nie noodwendig diep slaap nie. Vermy stimulante nĂĄ 16.00, sorg vir ân donker kamer en ân goeie matras, en hou by jou slaap- en opstaantyd.
Polifarmasie â die gelyktydige gebruik van verskillende soorte medisyne â is ân risikofaktor. Die newe-effekte van goedbedoelde mediese intervensie kan erger wees as die siekte. Gebruik so min moontlik medikasie.
Beperk blootstelling aan gifstowwe - van motoruitlaatgasse tot die chemikalieë in skoonmaakmiddels, grimering en haarkleurmiddels.
Handhaaf stabiele bloedglukosevlakke. Baie mense raak angstig wanneer hierdie vlakke daal en bekommer dan oor hul geestesgesondheid. Hou ân voedseldagboek en kyk hoe dit met angstigheid verband hou. As jy vroeg aandete geniet, eet byvoorbeeld ân piesang voor slaaptyd.
Navorsingstudies oor die sogenaamde Blue Zones wys mense wat voel hulle lewer ân sinvolle bydrae tot die samelewing â klein Ăłf groot â is van die gelukkigste mense op aarde.
Optimaliseer jou dieet
Dr. Lizette KĂŒhn, ân Pretoriase dieetkundige met ân spesiale belangstelling in demensie, gee raad:
âVolgens ân plaaslike navorsingstudie waarby ek betrokke was, kan die gereelde inname van sekere bekostigbare kossoorte ân statisties beduidende verbetering in kognitiewe funksie bewerkstellig. Ons het die Amerikaanse MIND dieet, wat ontwikkel is om die brein teen kognitiewe inperking te beskerm, aangepas met die oog op ân hulpbronbeperkte gemeenskap.
Foto: Pexels
âDie studiedeelnemers - ouer persone sonder demensie - se gewoontelike dieet is aangevul met kossoorte ryk aan plantaardige proteĂŻne en vesel asook mono-onversadigde vette. Een groep het bykomend voedsel (sardientjies) ryk aan Omega 3-vetsure geĂ«et, en nĂłg beter resultate getoon. Hierdie voedselkeuses hou onder meer verband met inflammasiebeheer en met ân gesonde vetprofiel en dermkanaal, faktore wat vermoedelik met die ontwikkeling van demensie saamhang.
âDie aanvulling van ân gewoontelike dieet met gesonde vette soos pilchards (ân 400g blikkie per week), grondboontjiebotter op ân gereelde basis (410g per maand) en Canola-olie as primĂȘre oliebron kan moontlik die vetprofiel van die liggaam beĂŻnvloed en in so ân mate bydra tot die ondersteuning van kognisie. Heelwat navorsing oor die onderwerp is nog nodig, maar ons is opgewonde om dieet hier op Suid-Afrikaanse bodem te bestudeer as een van die moontlike, veranderbare risikofaktore in die stryd teen demensie.â
Dr. Lizette KĂŒhn: lizettekuhn24@gmail.com
Rayne also offers practical guidance for taking the edge off dying, including how a death doula can help.
Meer oor Rayne
Dr. Rayne Stroebel is die stigter en besturende direkteur van GERATEC (Gerontological Research, Training, Educationâ,â and Caring) in Kaapstad. Hy het 'n doktorsgraad in Demensiestudies en bied konsultasiedienste aan mense wat met demensie gediagnoseer is en hul families, asook aan sorgverskaffers en organisasies.
In 2025 is Rayne aangestel as Buitengewone Professor van Praktyk by die Optentia Navorsingseenheid aan die Noordwes-Universiteit.
n 2010 het Rayne die Eden Alternative-filosofie na Suid-Afrika gebring in 'n poging om 'n hoë gehalte-lewe te skep vir ouer mense in versorgingshuise en aftreeoorde. Deur middel van opvoedkundige werkswinkels moedig The Eden Alternative organisatoriese, persoonlike en fisieke transformasie aan.
Rayne is 'n Uitvoerende Lid van die International Longevity Center of South Africa. Hy is ook opgelei as 'n sterftedoula.
Epos: raynestroebel@mindsmatter.co.za
Tel. 082 455 5300
Webtuistes:
https://letstalkdementia.co.za/
Youtube-kanaal: Geratec
Facebook: Minds Matter
Hooffoto: Unsplash
Foto van dr. Rayne Stroebel: LinkedIn