đźHelp jou kind om ân gesonde selfbeeld te bou
Hoe vorm ân mens se selfbeeld en wat kan dit skaad? Watter rol speel selfspraak en ander se opinies? Lees hoe om ân swak selfbeeld te herken, hoe jou kind moeilike situasies kan hanteer, en hoe jy hom of haar kan help om innerlike krag en sekerheid te ontwikkel. Hierdie artikel het oorspronlik in ârooi roseâ en op www.rooirose.co.za verskyn.
Dr. Lorna Geer
Ons kinders lĂȘ ons na aan die hart. Ons doen moeite om te sorg dat hulle gesond bly, gebalanseerd eet, geleerdheid kry en goeie maniere het â alles sodat hulle gelukkige, suksesvolle volwassenes kan word.
Om ân kind met innerlike krag en sekerheid toe te rus, is egter nie so maklik nie. Dit verg insig in wat ân positiewe selfbeeld is, hoe dit gevorm word, wat dit kan kortwiek en wat dit kan help ontwikkel.
âHoe jy oor jouself voel, bepaal jou optrede. As jy terugdink aan ân tyd toe jy regtig goed gevoel het oor jouself, sal jy besef dit was ook ân tyd toe jy goed gevoel het oor ander en maklik met hulle oor die weg gekom het,â sĂȘ dr. Lorna Geer, voorligtingsielkundige wat in hipnose en mediese hipnoterapie spesialiseer.
âMense met ân goeie selfbeeld koester hul bates en potensiaal, maar bly terselfdertyd realisties oor hul sterk en swak punte. Hulle hanteer konflik en negatiewe druk beter. Hulle glimlag gouer, geniet die lewe, en is oor die algemeen meer optimisties.
âJou selfbeeld verwys na jou opinie oor jou voorkoms (hoe ek lyk), prestasie (hoe ek vaar), verhoudings (hoe belangrik ek is), ensovoorts. Hierdie gedagtes het altyd ân gevoelskomponent. Sommige kenners onderskei tussen selfbeeld - hoe jy jouself sien - en eiewaarde - hoe jy voel oor dit wat jy in jouself sien - maar diĂ© twee loop hand aan hand. Die belangrikste is om te besef dat ân positiewe selfbeeld jou fisieke, emosionele, sosiale en geestelike welstand verhoog, terwyl ân negatiewe selfbeeld jou vermoĂ« om op hierdie terreine te funksioneer kan benadeel. Omdat kinders deur navolging leer, is ân ouer se voorbeeld van deurslaggewende belang.â
Foto: Pexels
Hoe selfbeeld ontstaan
Ons selfbeeld word deur interaksie met ons wĂȘreld en die mense daarin gevorm. âReeds voor geboorte kry die fetus boodskappe wat haar ân beeld laat vorm van hoe welkom sy is, of sy die âregteâ geslag is, en wat van haar verwag word â byvoorbeeld dat haar koms ân wankelende huwelik sal red.
âNĂĄ geboorte ontwikkel haar selfbeeld in ooreenstemming met twee stelle persepsies en verwagtinge: haar eie, en diĂ© van haar ouers, versorgers, onderwysers, maats en ander mense wat vir haar belangrik is. Sy internaliseer die sterk en swak punte wat ander vir haar weerkaats. Die omgewing (byvoorbeeld die media) het ook ân groot invloed.
âSoms is ân kind se selfbeeld realisties, en soms verwronge in terme van wie sy werklik is. ân Kind uit ân huis aan die spreekwoordelike verkeerde kant van die treinspoor kan minderwaardig voel omdat sy anders behandel word as haar klasmaats uit gegoede huise. Sy kan glo dat hierdie enkele aspek haar waarde as mens bepaal, en lewenslank ân pleaser word om aanvaar te word.
âVanaf voorskoolse ouderdom, wanneer die kind gewoonlik die eerste keer alleen met maatjies moet klaarkom, beĂŻnvloed die ouderdomsgroep sy selfbeeldontwikkeling. Hoe ouer hy word, hoe belangriker word die peer group.
Foto: Unsplash
âDis normaal dat tieners hulle van hul ouers afsny om hul eie identiteit en opinies te vestig sodat hulle later onafhanklik kan funksioneer. ân Tiener wat ân verlengstuk van sy ouers is, moet heeltyd check hoe sy ouers dink hy behoort te voel. Die bou van ân nuwe self - wat op die koop toe ân nuwe liggaam ontwikkel waarin hy tuis moet raak â is ân natuurlike proses. Vir ân kind wat soveel verander, werk die ou voorbeelde nie meer nie. Sy ouderdomsgroep het dus ân deurslaggewende invloed.â
Daar is ân wetenskaplike verklaring vir tieners se avontuurlus - lees Lorna se verduideliking hier.
Ander se opinies en selfspraak
âJou selfbeeld word deur ervarings met jou omgewing en ander mense sowel as selfspraak gevorm. Jy kan ân gesonder en meer akkurate beeld van jouself ontwikkel deur jou eie en ander se opinies oor jou te ondersoek en, indien nodig, nuwe menings te vorm.
âDaaglikse gebeure soos die punte wat jy in ân toets kry, ân opmerking, of ân haakplek in ân nabyverhouding beĂŻnvloed jou siening van jouself in ân mindere of meerdere mate. Iemand met ân goeie selfbeeld word nie noodwendig intens geraak deur ân âslegte dagâ nie. Hy vind gou weer sy emosionele balans.
Iemand met ân negatiewe selfbeeld word egter sterk beĂŻnvloed deur hoe hy in die oomblik presteer. Hy is afhanklik van komplimente van sy vriende of ouers en ander eksterne hupstootjies om sy konstante negatiewe gevoelens oor homself teen te werk. Positiewe terugvoer het ongelukkig net ân tydelike uitwerking voor hy weer aan homself begin twyfel.
âDis nie soseer dit wat met jou gebeur wat jou selfbeeld kan skaad nie, maar jou interpretasie van dit wat met jou gebeur. Interne selfspraak, of dit wat jy onbewustelik elke dag vir jouself vertel, hang hiermee saam.
âSelfspraak is deels gegrond op jou kleintyd; jou onbewuste herhaal aanhoudend die boodskappe wat jy in jou kinderjare ontvang het. Mense met ân gesonde selfbeeld ervaar meestal gerusstellende boodskappe, terwyl mense met ân swak selfbeeld se boodskappe gelaai is met verkleinering en afbrekende kritiek.
Foto: Pexels
âWanneer jy ân tree terug kan gee en objektief na jou selfspraak kyk, kan jy jou afvra of dit realisties is. Is dit byvoorbeeld waar dat jy tien duime het en skaars ân spyker kan raakslaan, soos jou ma kleintyd graag gesĂȘ het?
âDieselfde geld terugvoer wat jy in wisselwerking met ander kry. Reageer jy sonder nadenke op wat hul woorde of lyftaal na jou terugkaats, of gaan jy oordeelkundig met hierdie inligting om?â
Leer jou kind hoe om moeilike situasies te hanteer
âJy kan kinders van kleins af leer hoe om moeilike situasies konstruktief te hanteer. As ân vriendin jou byvoorbeeld te na kom en jou dogtertjie vra hoekom jy huil, kan jy sĂȘ: âEk is hartseer want tannie Marietjie was lelik met my. Maar dalk moet ons kyk hoekom sy lelik was met Mamma. Miskien voel sy vandag siek. Ek dink ek moet haar vra.â
âDeur moeite te doen om die situasie op jou kind se vlak te verduidelik, leer sy dat sy ân mate van beheer het. Deur kennis in te samel en dan ân besluit te neem, gee sĂœ betekenis aan dit wat ander doen en sĂȘ. Hul woorde en optrede hoef haar nie outomaties te definieer nie.
âWanneer iemand vir jou kind sĂȘ hy is sus of so, kan jy hom aanmoedig om te vra: Is dit waar? Jy kan ook die woordewisseling stap vir stap saam met hom ontleed sodat hy kan sien waar ân misverstand kon ingesluip het.
Foto: Unsplash
âDiĂ© deurdagte benadering is iets wat selfs volwassenes moet inoefen. Ons kan ân kind uit woede slaan of hok, of ons kan sĂȘ: âEk is nou baie kwaad. Gee my eers afkoelkans.â
âWanneer jy jou kind met respek behandel, skep jy ân sterk selfbeeld wat nie sommer deur ander verpletter kan word nie. Dis ân kind wat op ân belediging sal reageer met: âEk dink nie so nie.â
âSelfbeeld is dinamies en kan verander. Hierdie proses duur lewenslank en begin wanneer jy leer om jouself te aanvaar en lief te hĂȘ. Dit impliseer ook dat jy aanvaarding en liefde van ander ervaar.
âân Goeie motto vir ouers is: My kind, wie jy ookal is of wil wees: ons sal jou die ruimte gun om jou potensiaal te ontdek en te verwesenlik sonder om jou in te perk. Ons sal jou koester, nie versmoor nie. En as jy val, sal ons jou help opstaan.
âHierdie soort steun bou innerlike krag.â
7 wenke om jou kind se selfbeeld te bou
1. Vorm jou verwagtinge rondom jou ongebore baba sĂł dat sy voel sy kan vir jou kom wys wie sy is. Wees oop vir die persoonlikheidseienskappe, talente en voorkeure waarmee die kleinding jou gaan verras en beperk spesifieke verwagtinge sover moontlik.
2. Luister na hoe jou kind dinge ervaar wat met haar gebeur. As haar optrede skielik sonder ân goeie rede verander, het sy iets beleef wat sy nie self kan verwerk nie. Neem haar na iemand wat haar kan help.
3. Let op hoe jy uitdagings in jou lewe hanteer, want dis presies hoe jou kind dit later gaan doen. Kry self hulp en sorteer jou kwessies uit sodat jy ân navolgingswaardige voorbeeld kan stel.
4. Moedig jou kind aan om sy bes te lewer met alles wat hy aanpak, maar wys hom ook sy bes is vir jou goed genoeg.
5. Gee erkenning aan al jou kind se pogings en help hom om sy foute te identifiseer en reg te stel. So leer hy om homself nie net te evalueer nie, maar ook erkenning aan homself te gee.
6. Help jou kind om realistiese doelwitte te stel, want dan bemagtig jy hom om by sy doelwitte uit te kom en goed te voel oor homself.
7. Moenie deur jou kind probeer lewe nie. Jy het die kans gehad om op daardie ouderdom sekere dinge te doen of na te laat. Jou kind is uniek en dis nou sy beurt om die geleenthede tot sy beskikking te gebruik.
Hoe kan jy ân swak selfbeeld herken?
ân Negatiewe selfbeeld is nie altyd ooglopend nie. Wees van die volgende bewus:
*Die persoon tree op asof sy gelukkig en suksesvol is, maar diep binne is sy doodbang om te misluk. Sy leef in konstante angs en probeer hard om suksesvol te wees sodat die positiewe masker in plek kan bly. Dit kan aanleiding gee tot perfeksionisme, uitstel, kompeterende gedrag, en uitbranding.
*Die persoon kan ook optree asof ander se opinies en kritiek, veral dié van invloedryke mense in sy lewe, hom nie raak nie. Hy leef met konstante woede omdat hy voel hy is nie goed genoeg nie. Hy probeer aanhoudend bewys dat ander se sienings hom nie seermaak nie. Hy kan ander blameer, hul reëls verbreek, of gesag uitdaag.
*Die persoon tree op asof sy hulpeloos is en geen beheer het oor haar omstandighede nie. Sy sit en wag vir iemand om haar te kom red. Sy gebruik selfbejammering en onverskilligheid as beskerming omdat sy bang is om verantwoordelikheid te aanvaar en haar lewe te verander. Dit kan lei tot onderprestasie, ân gebrek aan selfgelding, en oormatige afhanklikheid in verhoudings.
Moontlike gevolge van ân swak selfbeeld:
*angs, stres, eensaamheid en ân groter kans op depressie
*probleme met vriendskap en romantiese verhoudings
*probleme met akademiese en werksprestasie
*verhoogde vatbaarheid vir dwelm- en alkoholafhanklikheid
DiĂ© negatiewe gevolge kan ân swak selfbeeld verder skade doen en die persoon kan in ân afwaartse spiraal van doelbewuste destruktiewe gedrag teenoor die self beland.
Meer oor Lorna: droewige nuus
Lorna is op 21 Februarie 2025 aan kanker oorlede. Haar nalatenskap is oneindig ryk.
Hooffoto: Unsplash. Model gebruik.
Foto van dr. Lorna Geer: vroeër verskaf.