Huiswerk: slim maniere om jou kind te help

Haal die angel uit huiswerk met hierdie praktiese wenke wat jou kind se breinfunksie, ontwikkelingsvlak en behoefte aan positiewe versterking in ag neem. ‘n Kundige gee raad oor wanneer en hoe om pouses in te bou en wat om te doen as huiswerk te veel raak. Loer veral na die pret wat julle met spelling kan hê!

Is huiswerktyd soms ’n nagmerrie vir jou én jou kind?

“Dis vir die meeste ouers van jong kinders ’n groot uitdaging,” sê dr. Shirley*, ’n algemene praktisyn met ’n spesiale belangstelling in neurologiese toestande. “Huiswerk word gewoonlik aan die einde van die dag ingepas. Dopamien, die breinhormoon verantwoordelik vir wakkerheid en motivering, is smiddae op sy laagste en ná ’n vol dag is kinders boonop sensories oorlaai. Dis ’n slegte tyd vir ’n herhalende, vervelige aktiwiteit.

“Omdat kinders tuis veilig voel en vertrou dat hul ouers hulle ondanks swak gedrag steeds sal liefhê, kan hulle ekstra moeilik wees. G’n wonder Finland – algemeen beskou as die land met die mees ontwikkelde onderwysstelsel – skeduleer smiddae geen akademiese werk behalwe lees nie. In Suid-Afrika is ons nog nie so gelukkig nie, maar ons kan wel die lewe vir ons en ons kinders makliker maak.

Ouers se houding het ‘n wetenskaplik meetbare invloed

“Eerstens kan ons ons houding aanpas. Om die situasie positiewer te benader klink dalk vaag, maar die effek daarvan is wetenskaplik meetbaar. Neuronavorsers het bevind ’n atmosfeer van kindness help om die prefrontale korteks aan te skakel. Deernis vir jou kind is die sleutel na die ‘boonste verdieping’ van sy brein, wat onder meer by selfbeheersing, beplanning, besluitneming en probleemoplossing betrokke is. Deur te sê: ‘Ek weet huiswerk is nie lekker nie, en ek wil ook nie graag hier sit nie, maar kom ons dink hoe ons dit beter kan maak’ skep jy ’n eenheidsgevoel pleks van antagonisme. Beskou die huiswerk as breingimnastiek – onthou, dit help ook om jou teen Alzheimer se siekte en demensie te beskerm!

“Wanneer ’n kind jou geduld beproef, vra jou af of die akroniem HALT van toepassing is: Hungry, Angry, Lonely or Tired. Dikwels kan tien minute se liefdevolle aandag die trein weer op die spoor kry.

“Die funksie van huiswerk is vaslegging. Deur leerinhoud dieselfde dag te herhaal, versterk ons breinbane. Die tyd wat jy saam met jou kind deurbring, moet ook nie onderskat word nie. Jy dra by tot jou kind se brein- en karakterontwikkeling en leer haar drome, vrese en behoeftes beter verstaan. Sy laat glip dalk dat sy geboelie word of met wiskunde sukkel, en jy kan betyds ingryp en in haar belang optree. Boonop kan huiswerk pret wees!”

Klik op “Home” hierbo en kyk gerus watter van die artikels en potgooie oor liefdesverhoudings, ouerskap, emosionele gesondheid en persoonlike groei jou aandag trek!

10 praktiese wenke wat dit vir almal makliker maak:

1. Skep ‘n huiswerkhoekie

jy-kan-n-huiswerkhoekie-met-maskeerband-afbaken.jpg

Nes ons ’n slaapkamer met slaap assosieer, help dit as jou kind se brein ’n sekere hoekie met huiswerk en ’n leeringesteldheid verbind. As die ruimte beperk is, kan jy sommer ’n hoekie van ’n kamer met maskeerband afbaken.

  • Minimaliseer afleiding indien jou kind se aandag maklik afgelei word. Sê: “Ek skakel my foon vir 20 minute af en gaan by jou sit en werk/lees/brei. Ons hou Boetie uit die vertrek.”

  • Sorg vir ’n gemaklike temperatuur.

  • Party kinders kan met musiek leer, ander nie. Eksperimenteer met wit geraas soos ’n waaier op die agtergrond, musiek sonder woorde, ensovoorts. Vir brain sequencing is Bach en Mozart die stimulerendste.

  • As jou kind se sensoriese integrasie nie optimaal is nie – soos by alle kinders met aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit - kan diep druk op jou kind se skoot of skouers strelend wees. Probeer ’n weighted jacket of kombers; die graansakkies wat fisioterapeute verskaf; ’n hondjie-deurstopper vol sand; of ’n teddiebeer wat ’n paar kilogram weeg. Die graansakkies kan warm gemaak of in die vrieskas gesit word. Eksperimenteer!

eksperimenteer-met-essensiele-olies.jpg
  • Kyk watter uitwerking verskillende geure het. Party is kalmerend, soos laventel; ander stimulerend, soos peperment. Koop suiwer essensiële olies met net een geur.

2. ‘n Volledige werkstasie

Hou ’n volledige stel benodigdhede in die huiswerkhoekie. Geen huisgenoot mag dit leen nie! As jou kind eers moet opstaan om ’n skerpmaker te gaan haal, verbreek dit sy konsentrasie.

3. Spring reg weg

Laat jou kind kies waarmee hy wil begin – verkieslik eenvoudiger take. Verduidelik dat ’n makliker wegspringplek jou kans op sukses verbeter omdat jou brein ook “opwarm”. Ouer kinders kan met die moeilikste taak begin, terwyl hulle nog vars is.

4. Hou ‘n ogie

Help ’n jong kind aanvanklik deur by hom te sit of, as jy nie kan nie, van tyd tot tyd te vra: “Hoe vorder jy? Kan ek help?”

Lees ook die artikel “Is jou kind ADHD of begaafd?” om verwarring te systap.

Dr. Ronél le Roux verduidelik hoe jy jou jou kind empatie kan leer.

5. Skep asem

Sorg dat jou verwagtinge van jou kind se studievermoë realisties is. Dis verstandig om te breek vóór jou kind se brandstof opraak. Gebruik ’n uurglas sodat jou kind die tydsverloop kan sien, en sê: “Kom ons doen vyf (of tien) minute lank wiskunde totdat die sand deurgeloop het.”

  • ’n Pouse van vyf minute kan jou kind help herlaai. Onthou www: water.wee.walk.

  • Realistiese verwagtinge: graad 2 - twee sessies van vyf minute elk; graad 3 – 15 minute op ’n slag; graad 4 - 20 minute op ’n keer; kinders tot graad 7 – sessies van 40, dan 30, dan 20 minute. Selfs

    volwassenes behoort ná ’n werksessie van 45 minute te strek of ’n ander sensoriese breek te neem.

  • Eksperimenteer deur ’n kort pouse met ’n langer pouse af te wissel.

kinders-moenie-tot-in-beseringstyd-werk-nie.jpg
  • Mamma moenie ’n “pliggie” wees en deurdruk tot die werk klaar is nie - dis teenproduktief. Wanneer ’n kind te lank moet konsentreer, beland sy in beseringstyd, wat meer kwaad as goed doen. Respekteer jou kind se versadigingspunt; indien die huiswerk dit oorskry, kan jy ’n vriendelike briefie vir die onderwyser skryf en noem dat die kind werklik gefokus gewerk het maar nie die werk kon voltooi nie. Bespreek die huiswerklading met die onderwyser indien dit dikwels gebeur.

How is teacher burnout influencing my child? Here are Dr Melodie de Jager’s insights.

Actress Milan Murray introduces fun, effective emotional growth tools for 6 to 13-year olds.

6. Geduld, o geduld

Sukseservarings lei tot groter sukses, terwyl skerp kritiek en die vrees vir mislukking ’n kind in oorlewingsmodus kan plaas. In die veg/vlugmodus het ons nie toegang tot hoër kognitiewe funksies nie. Probeer om nie ongeduldig te raak nie; kyk hoe jy kan help eerder as om die kind ontoereikend te laat voel. Op dié manier sal jou kind gouer onafhanklik kan werk – dis in jou belang!

7. Spelpret

  • Spelling is iets wat alle kinders moet leer. Die brein hou van afwisseling, ’n uitdaging en kompetisie - span dit tot julle voordeel in. Skryf die week se spelwoorde netjies op indekskaarte. Maak twee stelle en speel Snap!

  • Skep ’n Bingo-bord. Pak een stel spelwoorde daarop. Laat jou kind die woorde spel. Vir elkeen wat hy reg het, is dit Bingo!

  • Gebruik gekleurde pypskoonmakers om letters en syfers te buig en bou die spelwoorde daarmee.

  • Skryf elke spelwoord op verskillende maniere, byvoorbeeld S.T.O.P of StoP, vir afwisseling.

  • Speel “Vang Mamma uit”. Mamma skryf vier variasies van ’n spelwoord onder mekaar, byvoorbeeld K.L.O.U.T.E.R, klOUter, klouteR en kloutir, en laat die kind die verkeerd gespelde woord aandui.

spelpret.jpg
  • Skep ’n pak kaarte met opdragte wat sensories verskil, byvoorbeeld: Skryf die spelwoord in rooi/geel/groen, skryf dit in potlood/koki-pen/vetkryt, skryf dit twee/drie/vyf keer, sê die woord in ’n fluisterstem/ operastem/robotstem. Laat jou kind elke keer ’n kaart trek en die opdrag uitvoer.

Foto Unsplash

  • Deesdae is daar ook penne met verskillende geure, byvoorbeeld ’n oranje pen met lemoengeur. Betrek dit by dié speletjie; die gebruik van verskillende sintuie skakel die geheue aan.

  • Laat die kind haar oë toemaak en die woorde uitskryf.

  • Steek die kaarte met spelwoorde weg op jou kind se roete van die etenstafel na byvoorbeeld haar tandeborsel. Sy moet elke kaart optel, lees en sê – ’n interessante vorm van herhaling.

8. Mooi so!

Beloon jou kind vir elke sessie (meer inligting onderaan die artikel). Ouers is soms bang hulle koop ’n kind om, maar volwassenes werk ook beter as daar insentiewe is. Navorsing wys positiewe versterking kan vyf keer kragtiger wees as die vrees vir onaangename gevolge.

9. Pak weg

Maak seker jou kind het alles wat nodig is vir die volgende skooldag, en dat die boeksak gepak is en by dievoordeur wag.

10. Vier dit!

Doen ná elke sessie iets lekkers saam – dit skep die gevoel van “ek hoort hier, ek het ’n plek”. Wees kreatief; mettertyd sal julle ’n lang lys doendinge hê waaruit die kind kan kies. Speel vinnig ’n speletjie, jaag mekaar, dans ’n dansie, vertel elkeen ’n grappie, luister na ’n liedjie, vertel van julle dag, slaan iets in die kombuis aanmekaar of gaan kielie vir Pappa. Al weet jy wat jou kind se liefdestaal is, spel alle kinders liefde só: “tyd” en “aandag”. 

If you’re a tired sleep-deprived mom, take a look at this.

Raad oor hoe om ouderdomsgepas met jou kind oor die dood te praat.

*Dr. Shirley is ‘n algemene praktisyn met ’n spesiale belangstelling in neurologiese toestande wat verkies om geen kontakbesonderhede te verskaf nie. Sy beklemtoon dat dié artikel 'n algemene strekking het en nie professionele evaluering en bespreking mag vervang of tot spesifieke besluite aanleiding moet gee nie.

 Foto’s Pexels, tensy anders aangedui.

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in rooi rose.







Previous
Previous

ODD: Do you have a stronger than strong-willed child?

Next
Next

How can the Corona pandemic influence sexual function?