Jou tiener: ontwikkeling, normale gedrag, en of jy ‘n goeie ouer is

Hou kommer oor jou tiener jou snags wakker? Wil jy graag beter verstaan wat jou kind voel en dink? ‘n Psigiater vertroud met adolessensie gee riglyne oor tienerontwikkeling, normale tienergedrag, groepsgerigtheid, selfone, dwelms, en wat goeie ouerskap behels. Hierdie artikel het in die 2022 Julie-uitgawe van ‘rooi rose’ verskyn.

Dr. Terri Henderson, kinder- en adolessente psigiater van Kaapstad

Dis nie net tieners wat hul oë rol nie. By tye doen hul ouers dit ook – dalk met die versugting dat iemand asseblief tog net ‘n handleiding moet saamstel wat hulle kan help om hul kind beter te begryp.

Dr. Terri Henderson, ‘n Kaapse psigiater wat op adolessente fokus, het aan hierdie versoek voldoen. Haar boek Let’s talk teen (Quickfox, 2021) is nou wel nie vir ouers geskryf nie maar vir tieners, sodat hulle kan verstaan wat hulle beleef en positiewe, ingeligte keuses kan maak. Niks verhoed ouers egter om dié eerlike, toeganklike boek te lees nie. Begrip vir die veranderinge in ‘n tiener se brein en liggaam en vir hul leefwêreld maak dit makliker om die nodige struktuur te skep en hulle te ondersteun in die vorming van ‘n gesonde identiteit.

“Tieners is fassinerend!” sê dr. Terri. “Die energie en kreatiwiteit eie aan dié fase is ongelooflik. Toegegee, ouers het nuwe vaardighede nodig om hul kind deur adolessensie te begelei, maar daar is baie om te geniet en te vier.

“Tiener-wees kan opgesom word in twee woorde: massiewe verandering. Adolessensie, die tydperk tussen die aanvang van puberteit en volwassenheid, bring ingrypende biologiese, neurologiese, emosionele en sosiale verandering mee.

Biologies verander ‘n kinderlyf in ‘n volwasse liggaam. Puberteit, die fisieke en seksuele maturasieproses, tref nie ‘n 12- of 13-jarige uit die bloute nie. Dit behels ‘n periode van ses of sewe jaar wat by meisies gemiddeld op agt begin en by seuns op nege. Sommige kinders ontwikkel fisiek vinniger, wat probleme kan skep omdat grootmense meer volwasse optrede van kinders met ‘volwasse’ liggame verwag. Hul maats wat stadiger ontwikkel, bekommer dalk weer dat hulle agter raak.”

Foto: Unsplash

Tieners se breinontwikkeling

“Tienerbreine is soepel en aanpasbaar en stel tieners in staat om nuwe vaardighede aan te leer. Afgesien van die bou en versterking van neuronetwerke word ondoeltreffende konneksies weggesnoei om vir nuwes plek te maak.

Breinontwikkeling vind in ‘n stadige golf van agter na voor plaas. Die agterkant van die brein is geprogrammeer om op beloning te reageer en verklaar tieners se voorliefde vir nuwe ervarings. Wat ouers dikwels as impulsiwiteit sien, spoor jongmense in werklikheid aan om die brug van hul ouerhuis na die grootmenswêreld oor te steek.

“Die voorkant van die brein, gerig op beplanning, probleemoplossing, prioritisering en ingeligte keuses, ontwikkel heel laaste; gewoonlik net betyds vir tieners se matriekjaar!”

Emosionele en sosiale ontwikkeling

“Dan is daar die emosionele en sosiale ontwikkeling. Adolessente ervaar hul emosies intens. Positiewe en negatiewe gevoelens ry dikwels wipplank en tieners leer nog om dit te reguleer.

“Ouers kan gerus gesprekke oor hul kind se emosionele belewenis aanknoop. Indien hul denke oorwegend negatief is of hul emosies hulle oorweldig, kan dit op geestesgesondheidsprobleme dui. Dit moet onmiddellik aangespreek word (meer hieroor verder aan.)

Foto: Pexels

“Sosiaal verskuif tieners se fokus van hul gesin na hul ouderdomsgenote - met goeie rede. Hul portuurgroep is die kring waarbinne hulle hul identiteit ontwikkel, nuwe ervarings verwerk en die toekoms tegemoet gaan. Gesonde ontwikkeling vind binne ‘n gesonde ouderdomsgroep plaas. ‘n ‘Goeie’ groep verhoog ‘n tiener se kans om dié fase suksesvol te hanteer. Die ‘verkeerde’ groep kan hulle intrek in ‘n sfeer wat geen veiligheid of steun verskaf nie en hul lewensreis bemoeilik.”

Daar is ‘n wetenskaplike verklaring vir tieners se avontuurlus - lees ook Dr. Lorna Geer se verduideliking hier.

Is my tiener se gedrag normaal?

“Dis normaal dat tieners obsessief op hul vriende fokus – soos hierbo beskryf, vorm dit deel van adolessente ontwikkeling. Hulle mag hulle ook in hul kamer terugtrek waar hulle waarskynlik probeer sin maak van die werklikheid. Tieners het hul ouers en gesin egter broodnodig. Hulle moet gereeld verseker word dat hulle saak maak en sover moontlik by gesinsaktiwiteite betrek word.

“Dis normaal dat tieners volwassenes se uitkyke, waardes en selfs geloofsisteme bevraagteken en vrae oor die wêreld om hulle vra. Dis ‘n uitdaging, maar ouers kan moeite doen om ‘n kalm ruimte te skep waar tieners hul gedagtes kan lug sonder om te voel hulle loop die gevaar van verwerping.”  

Foto: Pexels

Tieners: selfoonwenke

“Dis normaal dat tieners en hul selfone – die lewenslyn na hul vriende - onafskeidbaar is,” sê dr. Terri. Dié verhouding moet egter bestuur word!”

In Let’s talk teen verduidelik Terri vir tieners dat ‘n selfoon hulle net so vatbaar maak vir onvanpaste, gevaarlike en vernietigende as vir goeie, gawe en liefdevolle boodskappe. Hier volg van haar aanbevelings vir tieners:

  • skrap (delete) enigiemand wat jou aanlyn seermaak of verneder

  • as jy iets wat aanlyn gebeur nie kan bestuur nie, laat iemand wat jy vertrou dit op jou foon hanteer

  • moet nooit inligting deel met iemand wat jy nog nie ontmoet het nie

  • moet nooit sex text nie - dit kan by enige persoon en op enige sosiale platform beland en word deel van jou permanente digitale voetspoor

  • sit jou selfoon snags weg; die blou lig en aktiwiteit op ‘n aanlynplatform ontwrig jou slaapsiklus

  • in die lig van selfoon- en aanlynspeletjieverslawing kan jy jou foon gebruik mits élk van die volgende in plek is:

1 Jy snags genoeg slaap en nié bedags nie;

2 Jy van aangesig tot aangesig met vriende sosialiseer;

3 Jy tred hou met jou skoolwerk;

4 Jy gereeld ‘n vorm van oefening doen;

5 Jy kwaliteittyd met jou gesin deurbring.

“As jy naglank speel, is jy nie meer deel van die wêreld nie. Dit isoleer jou en vergroot jou kans op eensaamheid of depressie, of laat jou dalk voel sosiale kontak is angswekkend.”

Lees ook kennersraad oor tieners en slaap.

Wanneer tieners eksperimenteer

“Dis normaal dat tieners eksperimenteer; só neem hulle besluite oor sake. Ouers se betrokkenheid is egter uiters belangrik. Sommige adolessente het geen trek vir riskante seksuele gedrag, die uittoets van dwelms, ensovoorts nie, maar ander gryp dit aan.”

In haar boek verskaf dr. Terri riglyne vir hierdie soort vraagstukke. Oor dwelms sê sy onder meer: “Tieners eksperimenteer hiermee weens nuuskierigheid, groepsdruk of om oorweldigende gevoelens te probeer hanteer. Sommige tieners pas die konsep van 'verantwoordelike eksperimentering’ toe; hulle beheer en beperk wat hulle gebruik, of bly eenvoudig daarvan weg.

“Dwelms mors met jou brein. Dit beïnvloed die manier waarop jou brein en liggaam funksioneer; jou hart klop vinniger, jou niere werk nie behoorlik nie, jou spiere versamel giftige neweprodukte en die normale funksionering van neuro-oordragstowwe word versteur. Fisiek is dit geen plesierige ervaring nie. Geestelik is jy in vryval.

Foto: Unsplash. Model gebruik.

“Dis bly nooit by slegs één drug trip nie, of hoe? Wat eers ‘hoog’ voel, voel later ‘laag’, en jy verhoog jou inname of neem iets sterkers om weer ‘hoog’ te voel. ‘n Bose kringloop ontstaan.

“Ek herinner jou aan jou kosbare brein, wat jou deur die lewe moet sien en aanhou ontwikkel tot jy 24 is. As jy nou stowwe inneem wat chaos in jou brein ontketen, word hierdie ontwikkeling gerem en sal jou volwasse brein nooit behoorlik funksioneer nie. Daarby verhoog dit jou risiko op geestesiektes.

“Op dié pad stap jy al verder weg van ‘n goeie toekoms, van die goeie mense in jou lewe en die dinge wat jy op prys stel. Die dwelm word mettertyd jou eerste prioriteit en ander lewenskwessies verskuif na die tweede, derde of laaste posisie.”

Is ek ‘n goeie ouer?

“Die volmaakte ouer bestaan nie,” sê dr. Terri. “Ouers moet net ‘goed genoeg’ wees. Dit beteken hulle sien hul tieners wérklik raak, stel belang in dit wat hul tiener interesseer, en slaag daarin om lief te bly vir hul kind - en dit te wys.

“Hierdie ouers is bereid om vastigheid te skep deur grense te stel oor sake soos inkomtye. Grense waaroor ouers en tieners ooreengekom het, werk die beste, maar die ouer moet dit konsekwent toepas. 

“Neem ‘n tiener se versoek om hulp ernstig op, veral as dit met emosionele welsyn te doen het. Tieners wat hulp vra, is dapper. Ondersteun jou kind, wat ookal op julle pad kom.”

“Let’s talk teen” is beskikbaar by www.publisher.co.za (tik die titel by die soekfunksie in), by boekwinkels en op Amazon.

Belangrik: tieners en geestessiektes soos depressie 

“Ek het Let’s Talk Teen eintlik geskryf weens die heersende wanindruk dat tieners immuun is teen geestesgesondheidskwessies,” sê dr. Terri. “Die tieners wat ek in my praktyk sien, worstel dikwels reeds twee tot drie jaar lank met depressie of ander stoornisse. Baie ouers glo dis net ‘n fase, dat alle tieners se emosies fluktueer, of dat ‘n kind hom net moet ‘regruk’.

“Kinders én tieners is vatbaar vir geestesiektes. Dit kan hul breinontwikkeling rem en hul eiewaarde knou en moet onmiddellik aangespreek word. Die waarskuwingstekens is een of meer opmerklike en durende veranderings in ‘n tiener se gedrag en vermoë om te funksioneer.

“Is daar byvoorbeeld ‘n afname in ‘n adolessent se sosiale betrokkenheid? Onttrek sy haar al hoe meer? Daal haar skoolpunte? Neem sy minder entoesiasties aan buitemuurse aktiwiteite deel? Verander haar slaap- of eetpatroon? As die verandering merkbaar is en langer as twee weke duur, moet ouers onverwyld optree.

“Onthou, teen die agtergrond van hul ontwikkelingsfase bly tieners dikwels stil oor wat hulle pla. Hulle voel skaam, skuldig of wil hul ouers nie met hul probleme opsaal nie. Hierdie stilswye werp geen refleksie op hul ouers nie – dis net hoe dit is.

Foto: Pexels. Model gebruik.

“Ouers moet besef hulle kán nie ‘n kind se geestesgesondheidskwessie self ‘beter maak’ nie. Hulle moet professionele hulp inroep. Gaan praat eers met die skoolberader en neem dit dan verder. 

“In Let’s Talk Teen bespreek ek geestesgesondheidsuitdagings, onder meer selfdoodgedagtes, op ‘n manier wat ek hoop vir tieners – en hul ouers - toeganklik is.”

Here you can listen to Dr. Terri Henderson’s insights on what makes teenagers tick.

Meer oor dr. Terri Henderson

Dr. Terri Henderson is 'n kinder- en adolessente psigiater van Kaapstad. Sy werk in privaat praktyk en spesialiseer in die assessering, diagnose en behandeling van kinders en adolessente met geestesongesteldheid.

Webwerf: https://drterrihenderson.co.za/

Tel. 0670638258

Adres: Kenilworth Kliniek, Kenilworthweg 32, Kenilworth, Kaapstad

E-pos: Drterripsych@gmail.com

 

A journalist, psychologist and Dr. Terri Henderson share what they love about being a mom - and what helps them stay sane!

Lees ook: Voel jou tiener eensaam?

Psychologist and coach Hennie Vorster offers practical advice on better communication with your teen.

Next
Next

How to cope when your partner has a chronic illness